Laat die waters wemel van lewende wesens en laat voëls bo in die lug oor die aarde vlieg. Dit is goed
Jesaja 40:31
_ maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie._
Om oor te gesels:
- Die lug is oop , sigbaar en vry. Ons kan die voëls sien vlieg, ons kan hulle waardeer en geniet. Jesaja beskryf ‘n gelowige wat in God glo en aan sy geloof vashou soos ‘n arend wat nooit moeg word nie nooit afgemat word nie.
- Wat is jou ervaring van die lug? Wat waardeer jy van die hemel? Hoe kan jy God beleef in die oopte, die skemer, sonsopkoms, die wolke, die voëls? Hoe versterk of vergroot dit jou ervaring van God?
- Die see was nog altyd vir die antieke mens ‘n geheimsinnige plek van gediertes wat onbekend is en vrees bring. Die see was onbekend. ‘n Plek wat onbekend is en wat nie geken kan word nie. ‘n Plek waar daar nie beheer is nie. ‘n Donker plek.
- Wat is jou ervaring van die donker see. Wat is vir jou onbekend van sy dieptes? Hoe voel jy oor die verskeidenheid van diere wat nog nie ontdek is nie? Hoe voel jy oor die krag en die intensiteit van die see? Hoe beleef jy God se almag daar?
- Die mooi van God wat die voëls in die lug en die diere in die see skep is dat Hy ewe bekend met albei is. Hy het mag oor albei. En Hy is lief vir albei. God het plek vir albei. En God bly getrou en lief vir jou wanneer jy belewenisse in elkeen het. Deel met God jou hart oor elkeen.
- Hoe kan “Laat die waters wemel van lewende wesens en laat voëls bo in die lug oor die aarde vlieg.” hoop bring vir jou en die mense om jou?
Gebed:
Vergifnis is genade.
Sulke kwytskelding en vriendelikheid kan ek nie begryp nie.
Vergifnis is onfeilbare liefde.
Sulke geduld en begrip kan ek nie begryp nie.
Vergifnis is oorweldigende deernis.
Sulke simpatie en warmte kan ek nie vergeld nie.
Vergifnis is die uitwissing van oortredings.
Sulke vryheid en goeie wil verdien ek nie.
Vergifnis is die afwassing van my ongeregtighede.
Sulke suiwerheid en nuutheid kan ek nie handhaaf nie.
O Here, maak my lippe oop, en my mond sal U lof verkondig.
Here, U is Goed.
Amen.