Filippense 1:9-11
“9 Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10 sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”
Om oor te gesels en dink:
Gebed is vir Paulus baie belangrik en nou sê hy nie net dat hy vir die gemeente in Filippi bid nie, maar ook wat hy vir hulle toebid. Hy bid dat hulle liefde al hoe meer sal word. Hy bid vir allesomvattende liefde vir God en vir mekaar. Dit is ’n voortdurende proses om aktief te groei in begrip en fyn aanvoeling. Op hierdie manier is hulle besig om te doen wat Jesus van ons vra.
Wat hierdie gebed besonders maak is dat Paulus vanuit die tronk dit skryf om die gemeente aan te moedig om op die regte dinge te fokus. Fokus op liefde en nie net op jou omstandighede nie.
Hierdie is ’n gebed wat ons nie net vir mekaar nie, maar ook vir onsself kan bid. Ons kan vra dat ons elke dag sal toeneem in liefde. Ons kan bid vir begrip en fyn aanvoeling. Dit gaan oor ’n dieper kennis en intimiteit met God. Ons kan bid dat God se liefde ons lewens oorspoel, sodat ons onberispelik en sonder blaam sal wees. Uit ons liefde vir God kan mense sien dat ons Jesus volg.
Om Jesus te volg is nie altyd maklik nie, maar Paulus moedig die gemeente en ons aan om ons verhouding met Jesus te koester. Wanneer ons in moeilike situasies is, kan ons bid vir liefde, begrip en fyn aanvoeling. Jesus maak dit moontlik dat ons in die regte verhouding met God leef.
Gebed
Here Jesus Christus, dankie dat U liefde altyd genoeg is. Mag ek steeds groei in my liefde vir U. Gee asseblief vir my die begrip en fyn aanvoeling om te doen wat U van my vra. Mag ek gehoorsaam wees in dit wat U van my vra. Amen.
“Dan sal julle hele lewe vol wees van die goeie gevolge van julle gehoorsaamheid aan die wil van God - goeie gevolge wat Jesus Christus bewerk het. God sal daarvoor geëer en geprys word.” (Fil. 1:11 NLV)