Psalm 84:9
Here, almagtige God, hoor my gebed, luister tog, God van Jakob!
Om oor te gesels en dink:
Ons het hierdie week gefokus op die gebed wat bekend is as die Shema. ‘n Gebed wat mens eintlik op ‘n bepaalde manier vorm as gelowige hoe meer mens dit bid. Wat is jou gebed wat jy op hierdie stadium nes die Psalmdigter in Psalm 84:9 bid? Wat wil jy hê moet God hoor en vir jou doen?
Neem ‘n oomblik om te reflekteer oor hoe jou gebede oor die algemeen klink of wat jy in gebed sê:
Waarvoor bid jy?
Hoe praat jy met God?
Is daar tyd in jou gebed om stil te word?
Wat van tyd om na God te luister?
Gebed
Lees hierdie refleksie oor gebed en stilte. Fokus veral op die verband tussen 'stilte' op 'luister'.
Gebed oor stilte
Namate my gebed bewusteliker en dieper geword het,
het ek al hoe minder gehad om te sê;
uiteindelik het ek heeltemal stil geraak.
Ek het toe begin luister,
wat selfs nog verder verwyderd is van praat.
Toe het ek geleer gebed is om te luister,
nie net stilbly nie.
Dit is soos dit is,
om te bid beteken nie om na jou eie gepraat te luister nie.
Gebed gaan oor stil word,
en oor stil wees,
en om te wag totdat God gehoor word. - Soren Kierkegaard
Neem ‘n oomblik om stil te wees. Probeer om dalk vir 5 minute net in stilte te sit en luister.