Johannes 20:19-25
“24 Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25 Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Joh. 20:24-25
Om oor te gesels:
Die realiteit van die opstanding bring nie net nuwe lewe nie, maar vra ook ‘n keuse. Die dissipels was baie opgewonde dat Jesus opgestaan het en verklaar dat Jesus se nuwe werklikheid aangebreek het. Hulle het die Here gesien. Tomas was egter nie by toe Jesus die eerste keer aan Sy dissipels na Sy opstanding verskyn het nie. Daarom sit hy eerlik sy twyfel op die tafel. Hy kan nie glo as hy nie bewyse het nie.
Ons is baie keer meer soos Tomas as die dissipels. Ons twyfel ook, maar dink dat ons nie mag twyfel nie. Twyfel is nie ongeloof nie. Daar is ’n groot verskil. Twyfel sê: “Ek kan nie glo nie.” Ongeloof sê: “Ek wil nie glo nie.” Twyfel is eerlik. Ongeloof is koppig. Juis omdat ons vrae het en twyfel wys dit dat ons soek na meer in ons verhouding met Jesus.
Gebed
Here Jesus, ek bring vandag my twyfel en vrae na U toe. Help my om eerlik hiermee om te gaan dat ek U beter kan leer ken en lief hê. Amen.
Ons geloof hier op aarde is dikwels niks meer nie as twyfel wat tot troos gebring is, deur God self. Martin Luther