Matteus 25:41-45
“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’”
Om oor te gesels en te dink
Die agste padwyser vir 2024: “Om vergeetagtig te wees wat my eie behoeftes betref, en om ’n sagter hart te hê vir almal rondom my.”
Ons leef baie selfgerig en ons moet bewustelik kies om soos Jesus ons leer om nederig te wees. Dit gaan nie net oor my eie behoeftes nie. Ons moet vrygemaak word om op ander mense te fokus en om die myle in ander se skoene te stap.
CS Lewis sê dat nederigheid nie is om minder van myself te dink nie, maar minder aan myself te dink.
Jesus vra in Matteus 25 of ander mense die effek sal voel van wat ek glo. Ek moet dade by my woorde sit.
Wie sal my mis as ek nie meer daar is om te help nie? Wie sal my mis as ek nie meer vir hulle kan bid nie. Ons moet elke dag ’n verskil maak, sodat ander mense ook die pad agter Jesus wil aanstap.
Gebed
Here Jesus, ek wil graag ’n verskil maak. Ek wil aan die geringstes om my ’n verskil maak. Mag ek U liefde vandag uitdeel omdat U vir my lief is. Amen.