Matteus 7:12-14
12“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” (Mat 7:12 AFR83)
Om oor te gesels:
Hierdie woorde van Jesus staan bekend as die “goue reël”. Baie godsdienste stel dit andersom, op ’n negatiewe manier: “Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.”
Jesus stel dit juis positief sodat ons eerste reageer. Die Boodskap vertaal dit treffend: “As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles wat die Bybel van julle vra." (Mat 7:12 DB)
Net hierna gebruik Jesus die beeld van die breë en smal weg om ons te herinner dat dit moeiliker is om die regte ding te doen, want dit vra groot opofferings.
Kom ons leef vandag die “goue reël” positief en doen eerste goed aan iemand anders. Vir wie gaan jy vandag iets doen?
Gebed
Here, dit is nie altyd maklik om die regte ding te doen nie. Help my om vandag juis vir iemand iets goeds te doen en so U koninkryk vandag te laat kom. Amen.