2 Samuel:2-3
Die Here is my rots, my skuilplek en my redder,
my God, my rots, by wie ek skuil,
my skild en sterk verlosser, my veilige vesting,
my toevlug en bevryder.
Van geweld het U my verlos.
Om oor te gesels en dink:
David sing hierdie woorde tot God. Hy het God beleef as die Een wat Red. Wat is jou beeld, of te wel, metafoor vir God? Dit verklap jou verstaan en iets van jou verhouding met God. Dink jy dat God die Kwaai Een is? Die Een wat wag om jou te straf? Of dalk dink jy dat God die Een is wat wag om al jou versoeke vir jou te gee?
Neem 'n oomblik van stilte
In hierdie tyd van advent word ons veral herinner dat God die Een is wat red. Ons lees graag tekste in die tyd wat vertel van God se reddingsplan. Jesus is ons redder. 'n Redder wat mens geword het vir ons. Wat weerloos die gestalte van 'n babatjie aangeneem het vir ons .
Gebed
Here, ek besef vanoggend dat ek dink U is… Dankie vir 'n tyd soos advent wat my herinner dat U die Redder is. Dat U my Redder is. Berei my hart voor om in die dae tot en met Kersfees meer en meer aan U te dink as die Een wat Verlos.
Amen