Daniël 3
16 Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17 Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18 Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
“Ek gaan nie dit doen nie.”
Het jy dit al ooit gesê in jou werksplek?
Is dit iets wat jy vandag vir iemand gaan moet sê?
Ons het die afgelope twee dae gekyk na ons daaglikse werk: dat ons daardeur die wêreld met die goeie nuus kan bereik (Daniël 1), en ook hoe ons te werk moet gaan om ’n verskil by die werk te maak (Daniël 2).
Vandag kyk ons na ’n storie van 3 manne in Daniël wat uit oortuiging staande gebly het in Babilonië, letterlik. Hulle oortuiging dat dit wat die koning beveel het teenstrydig is met wat God van hulle verwag, het hulle onmiddelik in konflik gedompel en hulle lewens op die spel geplaas.
Dink vir ’n oomblik aan hulle keuse: bly staande, wees gehoorsaam aan God en leef met ’n skoon gewete voor Hom al kan hulle hulle lewens verloor; óf, buig voor die goue beeld en leef rustig voort in Babilonië met die wete dat hulle aan God ongehoorsaam was…
Het jy al ooit daaraan gedink dat ons nie van hierdie drie manne sou lees as hulle wel gebuig het nie? Hulle nalatenskap is van so aard dat ons hierdie storie as kinders leer in die kerk. Hulle het slegs ’n nalatenskap omdat hulle bly staan het!
Dieselfde geld vir ons: as Christene gaan ons beslis in ons werksplek moet staande bly in tye wat almal buig om die verkeerde redes. Hoewel dit die moeilikste moontlike besluit in sulke omstandighede is, is dit een van die maniere wat ons ’n nalatenskap los en ’n verskil maak.
Waarom? Dit gaan oor die eer van God! Kyk hoe eindig die hoofstuk:
28Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid.
Om oor te sedink:
”The ultimate measure of a man is not where he stands in moments of comfort and convenience, but where he stands at times of challenge and controversy.” Martin Luther King Jr.