2 Petrus 1:19
“En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte.”
Om oor te gesels en te dink
Petrus deel dat hy 'n getuie was van Jesus se verheerliking op die berg. Die teks verduidelik waarom hierdie belewenis hom 'n betroubare getuie maak. Vers 19 word ingelei met 'daarom'. Daarom, omdat hulle getuies is, beskik hulle oor die profetiese woord. Hy vergelyk die 'profetiese woord' met 'n lamp wat in 'n donker plek skyn.
Die Ou Testamentiese geskrifte en veral die profete, tot hierdie geloofsgemeenskap se beskiking, was vir hulle soos 'n lamp wat lig bring. Hoe is die Skrif vandag 'n lamp vir jou persoonlik, in 'n donker wêreld?
Gebed
Here, ons ken U en het U innig lief. Ons weet dat U ons ook ken en by die naam geroep het. U gee vir ons U Skrif en Here, ons kan sien waar dit lig bring in 'n donker wêreld. Amen.