Woensdag, 19 Mei

Wat doen die Gees in ons huise?

Handelinge 2:14-21
Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: “Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Om oor te gesels of te dink:

  • Selfs gesinne in die Bybel het nie gelyk soos ons vandag sou dink ‘n ideale gesin sou lyk nie. Ons gesinne lyk nie noodwendig soos ons ook graag sou wou hê dit moet lyk nie. Hoe werk die Gees in ons gesinne se lewens?
  • Die shema, ‘n gebed wat die Jode van kindertyd af ken en daagliks twee keer bid herinner ons dat ons belydenis in ons gesinne konstant op ons lippe moet wees en uitgeleef word (Deut 6:4-9). Hoe leef julle gesin dit wat julle glo uit in julle gesin elke dag? As julle vir mekaar moet vra vir terugvoer, sal almal in die huis kan sê hulle sien wat jy glo deur jou optredes?
  • Probeer om een van die volgende Geloofsgewoontes vandag te oefen:
    1) Geloofsgesprekke – Oor die normale dinge vanuit die oogpunt van ‘n gelowige.
    2) Stiltetyd en Gebed – ‘n Tyd waar die gesin reeds saam is om in die Woord te kan wandel en te bid
    3) Huisgewoontes – ‘n Ritme wat verhoudings versterk en geborgenheid in die gesin versterk. Bv. Vrydagaande is Familieaande
    4) Saam Diensbaar te Wees – Saam tyd en energie te spandeer om diensbaar te wees
    5) Saam te Eet – Bewustelik saam te eet en gesprekstyd te hê
  • Wat wil jy vandag vir die Gees vra? Wat wil die Gees in jou doen?

Gebed:
Heer van my lewe,
Ek wil hê wat U wil hê, Here.
Ek vra vir U leiding in totale vertroue en geloof dat U my help.
Here, ek weet niks waarvoor U my roep, is te veel vir my nie.
Here, ek vra dat U die bekommernisse en vrese sal stilmaak.
Here, help my spasie te maak in my lewe, sodat U my helper is in al my werk en omstandighede. Help my om alles aan te pak tot eer van U naam.
Here, help my om elke aksie en gedagte te meet aan U wil.
Here, help my dat ek nie vinnige oplossings en versoeking neem nie.
Here, ek het vertroue daarin dat as ek U wil soek, dat die uitkoms reeds in U hande is.
Daarom Here, vra ek dat ek my lewe lei, met die wete dat ek U wil in alles soek.
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika