Kolossense 3:13
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
VRAE:
- Vergifnis is van kardinale belang in elke verhouding. Binne ons families en huishoudings is dit net so belangrik. Selfs al moet jy soos Jesus vra dat God hulle vergewe, wanneer dit nog te moeilik is om dit self te doen, vra die Here van ons dat ons ten minste die eerste tree in vergifnis neem. Soms begin dit by die eenvoudige gebed, “Here, gee my asb. die wil om te wil vergewe.”
- Vergifnis is ‘n buitengewone belangrike element van verhoudings met mense, omdat dit nie noodwendig die ander persoon vrede gee en vryspreek nie, maar omdat dit juis jouself vrede gee en jou gedagtes vrylaat. Ons is nie gemaak om met wrokke rond te loop en bitter te word as gevolg daarvan nie. Vergewe en beweeg aan, sodat jy kan leef in vrede en liefde.
- Hoe kan jy genade en vergifnis bewys in die oomblikke van familie drama en huishoudelike konflik? Hoe leef jy die voorbeeld vir jou kinders en jou hartsmense? Wat is die praktiese stappe wat jy neem om vergifnis te gee?
- Wat hou jou terug om vergifnis te gee, of vergifnis te bied aan iemand? Wat hou jou terug om vergifnis te vra vir dit wat iemand anders teen jou hou? Waarom is dit belangriker as die opdrag van God om te vergewe, of die vrede wat vir jou beskikbaar is wanneer jy dit gee? Deel jou hart met die Here.
- Hoe vra jy vergifnis van die Here? En hoe vergewe jy jouself wanneer jy verkeerd gedoen het? Hoe is hierdie optrede ‘n getuienis vir ander van die vergifnis wat jy by God ontvang of beleef? Deel jou hart met die Here.
GEBED:
Here, gee vir my die krag en deernis om ander te vergewe, soos wat U my vergewe het. Here, help my om enige bitterheid en kwaadwillige gevoelens neer te lê. Here, help my om die grond voor te berei vir genesing, rekonsiliasie en herstel van verhoudings in my familie en huishouding.
Amen