Psalm 100
Dien die Here met blydskap
1’n Dankpsalm.
Juig tot eer van die Here, almal op aarde!
2Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel!
3Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak en ons is Syne,
ons is sy volk, sy eie kudde.
4Gaan sy poorte binne met dankliedere,
sy tempel met lofsange,
dank Hom, prys sy Naam,
5want die Here is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag.
Om oor te gesels en dink:
Dankbaarheid bly ‘n keuse. Dankie sê kom nie natuurlik nie. Ons word opgeroep om met dankliedere in die Here se teenwoordigheid te kom. Ons voel nie altyd dankbaar nie en dan is dit juis nodig om dan wel dankliedere te sing. Wanneer ons kies om eerder dankie te sê, ervaar ons die Here se teenwoordigheid.
Ek dink aan die ou Halleluja-lied: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een…” Hoe klink jou danklied? Wanneer ons fokus op dit wat ons van die Here ontvang, kan ons nie anders as om in dankbaarheid te reageer nie.
Een vertaling van Psalm 100:4 sê dat ons na die Here toe moet kom met die wagwoord: “Dankie!”
Kom ons sê vandag opnuut weer vir die Here dankie dat ons na Hom toe kan gaan.
Gebed
Here, ek kom vandag na U toe met ’n danklied in my hart. Daar is soveel seëninge wat U vir my gee. Dankie! Dankie! Ek wil vandag U naam groot maak in alles wat ek doen. Amen