Jona 2:1-4
“Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God. Jona het gesê: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor. U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.”
Om oor te gesels en te dink
Jona verootmoedig homself voor God. Hy roep in sy nood na God en hy ervaar dat God sy gebed verhoor. Al het hy net van tevore van God probeer wegvlug, kom bely hy dat God die Een is wat by hom is. Jona besef dat al het hy probeer om van God af weg te kom, God hom nie gelos het nie. Hy bid tot God met die verwagting dat hy weer in God se teenwoordigheid sal wees.
In ons krisisse bid ons nie altyd nie. Ons voel ver van God af of dink dat ons nie God moet pla nie. Ons voel ook soms skuldig waar ons ons bevind. Dit is egter nie nodig nie. Wanneer ons swaarkry, moet ons juis soos Jona ons voor God verootmoedig en Hom vertrou dat Hy ons gebed verhoor.
Gebed
Here, soms voel ek oorweldig. Ek wil vandag my hart met U kom deel. Dankie dat U by my is, ongeag waar ek myself bevind. Amen.