Filippense 4:12-13
12Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe. 13Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.
Om oor te dink:
Ons lewe in ‘n wêreld waarin jy die heeltyd gewys word wat jy nog nie het nie. Daar is altyd meer waarna ons streef, verlang of wil hê. Of dit nou materiële dinge is, liefde is of drome wat nog nie waar geword het nie. Ons hunker na alles wat nog nie is nie. Die probleem is dat ons jaloers word, bitter word en verwyd beleef. Ons raak mense wat fokus op wat ons nie het nie met verwyd. Paulus herinner ons dat dit waarop ons eerder moet fokus, is wat ons het, ‘n lewendige verhouding met die Here en dat Hy al is waarna ons eintlik smag.
Om oor te gesels:
- As jy eerlik moet wees, dink aan dit wat jy voel jy nie het nie. Is jou fokus hierop? Maak dit gevoelens van bitterheid, verwyd en onvergenoegdheid by jou wakker? Deel met die Here die werklikheid.
- Is daar situasies, omstandighede of mense wat hierdie gevoel van nie genoeg hê nie versterk? Wanneer raak dit baie erg?
- Wat sê dit van jou verhouding met God as jy altyd meer wil hê en nie gelukkig is met wat jy het nie? Wat sê dit van jou verhouding met God as jy tevrede is met wat jy het? Hoe beïnvloed dit jou gedagtes van nie genoeg hê nie, of alles hê wat jy benodig jou verhouding met die Here?
- Wanneer voel jy tevrede met dit wat jy het? Hoe kan jy hierdie houding jou eie maak om sodoende God te reflekteer?
Gebed:
- Vra dat die Here jou wys wat die ware stand van sake is as dit kom by jou gevoelens van genoeg hê of dan nie. Hoe word dit gereflekteer in jou houding, jou hart, jou gedagtes, jou woorde en jou wil?
- Vra dat die Here jou meer bewus maak van wanneer jy bitter word of bekommerd word oor dit wat jy meen jy nie het nie. Vra dat Hy jou dan sal help om te fokus op tevrede te wees met dit wat jy het.
- Vra dat jou lewe gekenmerk sal wees as een van tevredenheid met wat jy het en wie jy is. Dat jou lewe jou vertroue op God en jou versorging van God sal reflekteer omdat jy tevrede is met wat is.