2 Korintiërs 6:6-10
”Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen. Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys. Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar; as onbekendes, en tog is ons goed bekend; as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe; as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie; as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.“
Om oor te gesels en te dink
’n Derde padwyser vir 2024 is: “Om ander mense geestelik ryk te maak, al voel ek soms brandarm.”
Hierdie voorneme vra dat ek bewustelik die fokus weg van myself sal draai en op die mense om my fokus. Ons kan baie selfsugtig wees en dink dat die Here net ons moet help, sodat ons gelukkig is.
Paulus beskryf hier dat hulle swaar gekry het en tog in die swaarkry het hulle vreugde ervaar. Hulle kon van hulleself wegkyk en ander raaksien.
Ons eie omstandighede gee ons soms die geleentheid om ander mense moed in te praat, selfs as ons moedeloos voel. Ons kan ons eie ervaring met ander deel wat nodig het om dit te hoor.
Gebed
Here, soms voel ek brandarm. Laat my onthou dat U my ryk maak en dat ek dit wat ek is, kan deel met iemand wat dit nodig het. Amen.