Markus 16:8
“Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.”
Om oor te gesels en te dink
Loer gerus na gister se dagstukkie in verband met die voetnota van hierdie vers. Dit verduidelik dat Markusevangelie aanvanklik by hierdié vers geëindig het met ‘n ‘oop’ einde.
Die eerste hoorders van hierdie teksgedeelte sou bitter goed hiermee kon identifiseer. Hulle het rede gehad om te vrees, want om van Jesus se opstanding te getuig kon vervolging beteken. En hulle sou geweet het dat die vroue tog moes gaan getuig het. En dat dit hulle in hul eie situasie ook ooproep tot getuienis van Jesus se opstanding.
Wat is die rede dat ons vandag bang is en vrees om die Goeie Nuus te deel? Wat hou ons terug? Is dit iets om te vrees? Is dit ongemaklik? Die Goeie Nuus roep ons, nes die eerste hoorders van hierdie teks, tot aksie: Ons kan nie stil bly nie. Jesus se opstanding moet vertel en geleef word.
Gebed
Here, ek sukkel om van Jesus se opstanding te getuig, want … of ek is…
Help my, Heilige Gees, om ook hierdie vrese en ongemaklik te oorkom, omdat ek diep oortuig is dat die lewe oor U gaan en ook moet getuig van Jesus se lewe en opstanding. Amen.