Dien – Aanraking
Matteus 7:1-3
1Jesus het afgekom van die berg af, en 'n groot menigte mense het saam met Hom gegaan. 2'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” 3Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.
Om oor te gesels of te dink:
- Mense is geskep vir verhouding. En een van die maniere waarop ons in verhouding met mekaar lief het en dien is deur mekaar aan te raak. Jesus het ook die mense wie Hy gedien het aangeraak. In die teksgedeelte vandag het Jesus ‘n man met melaatsheid aangeraak. So iets was nie net ongekend nie, maar verbode. Dit was teen die Joodse reinheidswette. Deur aan iemand met melaatsheid te vat, het Jesus onreinheid oor homself ook gebring. Dit keer Hom nie om mense aan te raak nie. Want ons as mens het aanraking nodig.
- Hoe lyk aanraking wanneer ons dien? Watter behoefte dink jy het ander as dit kom by aanraking? Hoe voel jy oor aanraking? Watter verskonings gee jy gewoonlik waarom jy nie iemand anders se behoefte aan aanraking kan voldoen nie? Waarom het aanraking so ‘n slegte konnotasie as ‘n vorm van diens en liefde bewys teenoor ander? Deel jou hart met die Here.
- Diens voorstel vandag: Kies jou familie of gesin vandag om te dien deur aanraking. Idees vir hierdie vorm van diens. Tap ‘n warm bad vir iemand na ‘n lang dag, kry ‘n sagte kombersie om onder te lê, gee ‘n drukkie wanneer een nodig is, masseer iemand se skouers.
Gebed:
Here van my lewe,
Help my om U wonderlike geur oral te versprei. Laat my siel oorloop met U Gees en U liefde. Here neem so totaal beheer van my lewe dat al wat mense kan sien is die buitengewone lig wat U skyn deur my. Skyn deur my op so ‘n manier dat elke siel met wie ek in kontak kom U teenwoordigheid sal ervaar. Laat elke mens opkyk na U en net U raaksien. Here, bly asb by my sodat ek kan begin skyn, en deur te skyn, kan ek skyn met ‘n warmte wat die ander wys na U, die ware lig. Here, dit is waarom ek vandag wil dien.
Amen