Donderdag Oordenking

Bovertrek Gesprekke: Wit Donderdag

Teks vir Vandag (Lees dit saam met iemand) :
Johannes 17

Die Donderdag voor die Paas “Triduum” (die drie dae van Paasfees nl. Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag) is al vir eeue bekend as “Maundy Thursday” oftewel Wit Donderdag.

Die woord “Maundy” is afgelei van die Latynse woord vir “opdrag.” Dit verwys na Jesus se opdrag in Johannes 15:17:Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!

Vandag word die instelling van die Nagmaal gevier. Ons het normaalweg ons “Tuin Nagmaal” vanaand, juis hiervoor. Jesus het die Nagmaal ingestel tydens die Joodse Pasga, wat die verlossing uit Egipte herdenk. Die Verlosser vervang hierdie fees met ‘n nuwe fees, ons sakrament, die Nagmaal, wat Sy verlossing aan die kruis herdenk.

Vandag is ook bekend vir voetewassing. ‘n Herinnering aan ons roeping as volgelinge van Jesus om ander te dien met liefde.

Doendinge:

Lees die dag se Skrifgedeelte

Skryf vandag êrens jou getuienis neer. Hoe en wanneer jy jou lewe aan die Here oorgegee het en Jesus as jou Verlosser aangeneem het.

Doen vandag vir iemand anders ‘n liefdesdaad van hulp, ondersteuning of versorging.

ONTHOU OM VOOR TE BEREI OM HUISKERK-NAGMAAL AS GESIN TE VIER MÔRE-OGGEND TUSSEN NEGE-UUR EN TIEN-UUR.

Woensdag Oordenking

Bovertrek Gesprekke: Hou Moed

Teks vir Vandag (Lees dit saam met iemand) :
Johannes 16:1-33

Jesus praat verder met sy dissipels sodat hulle kan reg wees vir die moeilike tye wat kom. Maar Hy troos hulle ook dat die Heilige Gees by hulle sal wees - “as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei” (Joh 16:13 Boodskap).

Maak dit jou rustig? Wat sou jy graag vir Jesus wou sê?

Verder sê Jesus vir sy volgelinge dat hulle hartseer in blydskap gaan verander. Ons moet vrymoedigheid neem om te bid, sodat ons blydskap volkome sal wees.

Hierdie hoofstuk sluit af met die belofte: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin." (Joh 16:33)

Skep vandag moed. Weet die Heilige Gees is by ons. Bring jou vrese vir Hom. Mag jy Jesus se vrede vandag ervaar.

Dinsdag Oordenking

Bovertrek Gesprekke Saam met Vriende

Teks vir Vandag (Lees dit saam met iemand) :
Johannes 14:15-15:27

Ons kyk vandag meer in diepte na Jesus se hart, wanneer hy met sy dissipels 'n laaste boodskap deel, in die Bovertrek, die aand voor Hy sterf.

Hoe lyk so 'n boodskap die aand voor Jesus weet Hy gaan verraai en vermoor word? Nie een van reg en geregtigheid, staan op teen die onkundiges of verdedig my oortuigings nie.

Eerder 'n boodskap van bemoediging. Weet ek is by julle. Kyk hoe lyk liefde. Bly in God geanker. Dit is hoe om te bid.

Wat leer jy uit Jesus se laaste boodskap aan die dissipels, oor wie Hy werklik is?
Wie verwag Hy van jou om te wees?
Hoe doen julle hierdie prakties by die huis, by die werk/skool, in die wêreld?

Gebruik een van die verse in die gedeelte vanoggend, as 'n inleiding tot jou gebed vandag.

Maandag Oordenking

Bovertrek Gesprekke: Wow jou voete is vuil!

Teks vir vandag
(Lees dit asb saam met iemand):
Johannes 13:1-14:15

Jesus het Jerusalem binnegekom op ‘n donkie. ‘n Donkie is ‘n nederige dier.
Beteken dit dan dat hierdie Koning ‘n nederige Koning is?

Kort nadat Jesus Jerusalem binnegery het op ‘n donkie, het Hy saam met Sy dissipels geëet. Tydens hierdie ete, het Hy hulle voete gewas.
Hy is baie duidelik as Hy in Johannes 13 vir hulle sê: “julle behoort mekaar se voete net so te was. 15 Ek het nou vir julle ’n goeie voorbeeld gegee.

Sal jy iemand se voete wat so vuil soos die voete in die foto is was? Waarom, of waarom nie?
Wat dink jy sal hierdie persoon sien as jy dit vir hulle doen?
Waarom dink jy wil Jesus hê moet ons dit ook doen?
Sal julle vandag mekaar se voete in die huis was om hierdie te oefen?

Lees Psalm 36:6-10 om mee af te sluit:
6 Here, U is baie lief vir ons, niemand op aarde kan dit ooit meet nie.
Here, U is so goed vir ons, niemand het genoeg woorde om dit te beskryf nie.” (Die Boodskap)

Nog om na te kyk

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram