Kleinkerk. Hoe wat en waar?

‘n Storie, maar ook ‘n getuienis!

In Maart 2020 met die skielike aanvang van die Covid 19 inperking is ons as Geloofsfamilie uit die bloute gekonfronteer met die realiteit dat ons bestaande bediening tot ‘n knarsende halt gekom het. Behalwe ons “normale” bedieningsritme, het die inperking die vernuwingsbeweging van die afgelope drie jaar, OLC2020, in die pylvak gesnoeker. 

Ons is in ‘n oogwink afgesny van ons lewensaar, die geleentheid vir gereelde persoonlike kontak met ons geliefdes, die mense van ons Geloofsfamilie. Ons bedieningspan moes oornag ons hele benadering heroorweeg en herstruktureer om steeds ons mense te bedien en te versorg met die liefde van die Here Jesus Christus.

Soos baie keer in die verlede is ‘n groot krisis ook ‘n groot geleentheid. In die eerste weke van die inperking, terwyl ons biddend en vertrouend noodplanne in werking gestel het, het KLEINKERKE het die lig gesien!

Ons het besef ons sal op ‘n manier kontak en konneksie moet bewerk met ons mense, en ons het in ‘n paar weke ons hele Geloofsfamilie in 38 kleiner groeperings verdeel. Elke “kleinkerk” was geografies ingedeel volgens die “ou” wyke. Die mense van elke kleinkerk was almal in mekaar se omgewing, so naby as prakties moontlik. 

Ons het deur ‘n deeglike “kies & werf” oefening gegaan om vir elke Kleinkerk ‘n “Kleinkerkleier” te kry. Toe spring ons in en bou die PvR AANLYN platform in ‘n rekordtyd, en siedaar, op 27 Mei 2020 vind ons eerste aanlyn Kleinkerke plaas. Groot was ons verassing toe ons in die eerste paar weke meer as 300 gesinne in die 38 PvR AANLYN kuierkamers kon ontvang! Groot was ons dankbaarheid toe die Kleinkerk byeenkomste sommer gou warm, verwelkomende, liefdevolle ruimtes geword het waar mense nuwe vriende kon maak, mekaar kon bemoedig en aanmoedig en dieper as volgelinge van Jesus kon groei.

In September 2020 het ons (so saam met die verslapping van die inperkingsregulasies) begin om werk te maak van OPPIWERF Kleinkerkbyeenkomste. Omdat die regulasies voorsiening begin maak het vir byeenkomste op die gronde van godsdienstige instellings. Lentetyd het dus ook OPPIWERF tyd geword en ons PvR AANLYN byeenkomste het begin verskuif na “regte” byeenkomste. Natuurlik binne die voorskrifte van die regulasies, al is dit effe ongemaklik.

Is Kleinkerke hier vir die seisoen of word dit ‘n permanente deel van ons bediening?

Kleinkerke het nie alleen vir ons vreugde en konneksie gegee tydens die inperking nie. Ons het gesien dat mense werklik ware Gees-verhoudinge begin kweek het, en, selfs meer belangrik, dat ons ewe skielik ‘n plek en geleentheid gehad het waar ons die groot en belangrike opdrag van Jesus kan uitvoer. “Maak dissipels…” 

Dit lyk ook, uit die lesse wat ons leer by gemeentes in die noordelike halfrond, dat Covid 19 permanente veranderinge in die tradisionele manier van kerkwees gebring het. Ons moet noodwendig anders dink oor kerkwees in die tyd wat kom, as voor die pandemie. Nie net vir gesondheidsredes nie, maar oor meer permanente “mense-dink-en-verwag-anders” redes.

So dit lyk vir ons asof Kleinkerke hier is om te bly, maar selfs meer as dit. Dit lyk asof die Kleinkerk die belangrikste byeenkoms van ons Geloofsfamilie kan word. Selfs belangriker as die erediens! Hoe ookal die toekoms lyk, ons is baie opgewonde oor wat hierdie “work in progress” van ons Kleinkerke vir ons gaan inhou!

Indien jy betrokke wil word by ons Kleinkerke, vul asb die vorm in.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika