Spirituele dissiplines is die gewoontes, praktyke en ervarings wat ons help om in geloof te groei en versterk. Die idee van dissipline, soos ons die woord gebruik by die grootmaak van kinders, is dat daar gedragsverandering sal plaasvind. Hierdie verandering in gedrag kom nie net vanselfsprekend nie. Dit vra inoefening.
Daarom is hierdie gedeelte op ons webblad juis gemerk as Spirituele oefeninge. Ons sal weekliks 'n oefening bysit wat jou kan help om in geloof te groei en versterk. Oefen die hele week daaraan. Sommige van die oefeninge gaan vir jou beter werk as ander. Gaan voort met die wat jou help om te groei. Gooi af die wat jou hinder. Onthou wel, net omdat iets moeilik is, beteken dit nie dat dit nie jou help nie. Bly konstant in jou spirituele oefeninge (dissiplines) en sien hoe jou geloofslewe vlerke kry.
Wat is dit?
St. Ignatius van Loyola se Examen is 'n geleentheid vir daaglikse, vredevolle refleksie. Die Examen nooi jou uit om te ontdek waar God aan die beweeg is in jou lewe deur mense of gebeure. Die Examen gebruik verskillende woorde om jou gedagtes oor jou dag te prikkel
Hoe help dit my?
Ons almal is opdoek na God se leiding in ons lewens. Ons wil almal meer sensitief word vir die stuur van God se Gees. Maar hoe onderskei ons wat God se wil is? Die Examen help ons om te onderskei en die fluister van God se handelinge in ons lewens raak te sien.
Wanneer ek dit reg kry...
Ontdek ons hoe God in ons lewens werk.
Ontdek ons wanneer ons buite die vloei van God se Gees is.
Ontdek ons hoe dit voel om in vloei met God se Gees te wees.
Kan ons met beter onderskeiding keuses maak.
Beleef ons meer dankbaarheid in die lang termyn.
Spirituele Oefening...
#1 Raak Bewus van God
Dit is belangrik dat ons net eers ons gedagtes en liggame tot stilte bring. Steek ‘n kers aan, haal diep asem of luister na ‘n aanbiddingslied wat jou kalmeer. Rig jou gedagtes op God. Waarvoor kan jy God se naam groot maak.
#2 Reflekteer
Dink na oor die dag. Hardloop deur die dag. Vandat jy vanoggend opgestaan het, elke afspraak, interaksie, gebeurtenis en ervaring. Sonder om dit of jouself te oordeel beweeg van gedagtes tot gedagte, soos jy ‘n video sou kyk. Dink na oor waar God was in elkeen van daardie oomblikke. Dink na oor die gawes wat God gegee het in die vorm van mense en geleenthede.
#3 Bely
Waarvoor het jy nodig om vergifnis te vra. Waar moet jy bely was jou gedagtes, emosies, handelinge en intensies nie op God gerig soos dit moet nie. Waar het jy nie jou verhouding met God gereflekteer soos jy weet jy moes nie. Deel jou hart met God.
#4 Innooi en Versoeke
Dink na oor die dag wat môre voorlê. Wat lê voor. Wat is in jou dagboek reeds beplan? Wie gaan jy ontmoet? Wat word verwag van jou? Deel dit alles met die Here en nooi die Here in elkeen van daardie geleenthede in. Los dit by die Here.
#5 Dankbaarheid
Dank God vir die tyd saam. Dank God vir al die ander elemente in jou lewe. Wees net nou in die oomblik by God. Wanneer jy reg is, blaas die kers uit, haal weer diep asem of luister na jou aanbiddingslied. Hierdie gebed hoef nie langer as 10 minute te duur nie.
Wat is dit?
Dit is die skryf van my gedagtes, emosies, refleksies, ervarings, bekommernisse, vrede, drome en hoop wanneer ek in gebed na God gaan.
Hoe help dit my?
Dit help my om stil te staan by die Here en in Sy teenwoordigheid te wees. Die hou van ‘n gebedsjoernaal is die proses van stilword by die Here, reflekteer oor die gebeure van die dag en my reaksie daarop, luister na wat binne in my hart regeer, leegmaak van alles wat swaar druk en moedeloos maak, bely van tekortkominge en versoekings, wroeg met probleme en situasies, verbly in omstandighede, deurbrake en oorwinnings, organiseer van gedagtes en emosies EN help ons om sonder oordeel net te wees in die oomblik saam met die Here. Dit neem toevallig die vorm van skryf aan, maar kan ook getik word.
Wanneer ek dit reg kry...
Het ek ‘n rekord van God se handelinge in my lewe.
Kan ek sien hoe God voorsien in my lewe.
Help dit my met beter perspektief in omstandighede.
Maak dit my las en hart ligter.
Help dit my met besluite neem.
Versterk dit my wanneer my geloof swaar kry.
Spirituele Oefening...
#1 Vind die formaat wat vir jou werk
As jy werklik nie van skryf hou nie, gaan dit nie werk dat jy skryf nie. Maar dalk hou jy van tik. Dalk tik jy graag op ‘n ou tik masjien soos Tom Hanks. Gebruik wat vir jou werk. Dalk hou jy daarvan dat alles wit en swart, netjies en agter mekaar is? Maak jou joernaal dan so. Dalk hou jy van helder kleure, verf, versier en jouself deur kuns uitdruk? Inkorporeer dit in jou joernaal.
#2 Wees intensioneel
Kry vir jou ‘n spesifieke spasie en tyd waarin jy dit doen. Maak met jouself daardie afspraak. Stel jou wekker en sit jou foon af. Maak seker dat jy daardie tyd gebruik om met God te gesels en ook na Hom te luister.
#3 Skryf outomaties
Nie almal hou hiervan nie, maar dit is hoe mens aan die gang kom. Begin skryf en hou aan. Maak dit ritmies en moenie daaroor dink nie. Moenie bekommerd wees oor sinstrukture, spelling of die kwaliteit van jou skryf nie. Begin net. Soms begin ek met teks in die Bybel, en wanneer ek voel my hart maak oop skakel dit oor na my eie gedagtes en gebede. Moenie terug hou nie. Moenie jouself, jou skrif of die inhoud oordeel nie. Wees net.
#4 Ontlaai
Soms is dit nodig om te ontlaai. Maak plek vir so ‘n area. Skep vir jouself ‘n beperkte tyd waarin jy jouself kan laat gaan en jou uitgiet voor God. Moet net nie die hele oggend, uur daaraan spandeer nie. 5 of 10 minute is voldoende.
#5 Dankbaarheid
Hoe lank jy ook al geneem het vir die Ontlaai proses, maak seker dat jy net so lank indien nie langer nie gebruik vir danksegging en lofprysing van God. Soms is dit uitdagend, maar hoe meer jy dit doen hoe meer bewus word jy van God se voorsienigheid en identiteit.
#6 Bid vir ander
Ons gebede kan baie selfgesentreerd word. Maak seker dat jy ander ook aan die Here opdra. Bid vir die mense met wie jy die dag in aanraking was. Dink aan daardie mens in totaliteit. Nie net in die een dimensionele manier hoe jy met hulle te doen kry nie.
#7 Maak gebruik van gebed hulpbronne
Maak gebruik van die Woord as fondasies vir jou gebede. Maak gebruik van ander mense se gebede. Maak gebruik van verskillende maniere van gebede. Maak gebruik van prikkels in die wêreld om jou tot gebed oor te neem. Wees oop vir die plekke waar God reeds teenwoordig is om jou te help met jou gebedslewe,
Wat is dit?
Geniet die Woord, ook bekend as die Heilige Lees of Lectio Divina, is die lees van die Bybel op 'n manier wat veel dieper gaan as net die verstaan van woorde. Dit is die vreugde vind in die inhoud. Die ontdek van die God wat die woorde geïnspireer het. Die rus in wie God is. Dit is lewegewend en transformerend.
Hoe help dit my?
Geniet die Woord help ons deur eerste net tot rus te kom by God. Om die gejaag van ons lewe agter te laat. Dan help dit ons om die Woord te ontdek vir wat dit is. Nie dadelik te spring tot wat dit vra nie, maar net eers die Woord te geniet vir wat dit is. Die tydloosheid van die Woord te waardeer. Daarna help dit ons om te luister na wat God vir ons vra of ons wil wys. Dit help ons met verrykende tyd by God se voete.
Wanneer ek dit reg kry...
Spandeer ek meer tyd saam met die Here.
Is my lewe meer gebaseer op die Woord van God as my eie wil.
Is my hart nuuskierig en leerbaar, eerder as alwetend en hardkoppig.
Beleef ek meer vreugde in my verhouding met die Here, omdat ek meer sensitief word vir Sy wil en stem.
Spirituele Oefening...
#1 Raak stil by God
Dit is vir ons nodig om net eers onsself te vind by die voete van die Here. Ons kan die proses help deur simboliese handelinge. Ons kan 'n Kers aansteek en diep asem haal. Ons kan 'n spesifieke aanbiddingslied elke keer luister om ons gedagtes op God te vestig.
#2 Lees
Kies 'n gedeelte om te lees. Jy kan besluit om deur 'n Bybelboek te werk of gebruik te maak van die leesrooster.
Lees dit twee of meer keer. Maak gebruik van verskillende vertalings.
Luister na die woorde en gedagtes wat vir jou uitstaan.
#3 Redeneer
Wees nuuskierig oor die teks. Lees weer die gedeelte.
Waaroor wonder jy? Wat maak nie vir jou sin nie? Is daar iets wat jy nie verstaan nie? Waaroor wil jy graag meer weet?
#4 Bid
Lees weer die gedeelte.
Praat met die Here oor al die dinge wat die teksgedeelte vir jou vra om te doen. Praat met die Here oor die dinge wat die teksgedeelte vir jou vra om nie meer te doen nie. Praat met die Here oor die maniere waarop Hy wil hê jy dit moet uitleef.
#5 Reageer
Rus nou in die Here. Spandeer nou 5 minute in stilte. Luister net na God. Hou jou gedagtes net by God in die oomblik. Moenie praat of bid nie. Wees net by God
Hoe gaan jy dit wat jy nou ontdek het, uitleef?
Hoe gaan jy dit wat jy nou ontdek het, met ander deel?
#6 Voltooi jou tyd saam met God
Dank God vir jou tyd saam met Hom.
Blaas die kers uit, haal diep asem, luister weer 'n lied. Doen wat vir jou help om bewus te wees van God se teenwoordigheid.
Wat is dit?
Palms na Onder, Palms na Bo is 'n vorm van gebed wat jou help om jou lyf en gedagtes teenwoordig te hou by die gesprek met God. Dit is 'n uiterlike handeling van dit wat jy innerlik met die Here deel. Dit bevestig, beklemtoon en getuig met jou lyf, wat in jou hart leef. Die gebed is nie noodwendig bedoel om vir ander 'n skouspel te wees nie, maar eerder om in eenvoud jou hart voor God leeg te maak en vol te maak.
Hoe help dit my?
Die Here het vir ons 'n liggaam gegee om die wêreld om ons te beleef. Ons Spirituele lewe is nie net een wat ons met ons denke en emosies beleef nie, maar ook een wat ons met ons liggame kan beleef. Hierdie vorm van gebed maak ons liggame deel van die gebed. Dit plaas ons volledig in die hier en nou sodat ons aandagtig in ons gebed kan wees.
Wanneer ek dit reg kry...
Is dit vir my moontlik om elkeen van my bekommernisse, situasies en ervaring in my hande te neem en dit in God se hande te kan plaas, deur middel van die simboliese handeling.
Is dit vir my moontlik om my hande na God te draai en met vrymoedigheid te vra vir die gawes en seêninge van God.
Is dit vir my moontlik om te onderskei en sif wat werklik in my gemoed aangaan en te fokus op my verwagting van God se handeling in my lewe.
Is ek meer bewus van die gawe waarvoor ek vra, nie noodwendig in die vorm kom wat ek verwag nie.
Spirituele Oefening...
#1 Kom in die Oomblik
Die Here is altyd teenwoordig, maar ons is nie altyd nie. Ons begin die gebed deur net eers in die oomblik te kom.
Haal diep asem. Sing 'n aanbiddingslied. Steek 'n kers aan. Neem 5 minute van stilte. Deel met God jou behoefte om Hom te ontmoet.
#2 Palms na Onder
Hierdie handeling help jou om deur jou hart te sif. Wat wil jy graag vir God gee. Dalk is dit 'n sonde, 'n versoeking, 'n bekommernis, 'n vrees, 'n angstigheid, 'n emosie, 'n gedagte, 'n verhouding, 'n mens. 'n situasie, 'n reaksie, ens.
Deel dit wat jy wil neersit met God. Dit kan dalk klink soos volg:
Here, ek plaas my bekommernis oor my meisiekind se tuisskool in U hande. Ek erken dat ek buite beheer voel en ek hou nie daarvan nie. Ek is angstig dat ek foute maak en haar te na kom. Ek is oortuig dat sy die jaar gaan druip en dit gaan my skuld wees. Dit maak ook dat ek die skool, juffrouens, die virus en die wêreld wil blameer vir die situasie waarin ons is. Dit maak my moeg, moedeloos en kwaad.
Voor jy verder gaan, sit net met daardie gevoel terwyl jou palms na onder gedraai is.
#3 Palms na Bo
Wanneer jy reg is, draai jou palms na bo. Moenie die proses jaag nie. Wat wil jy nou graag vir God vra? Dalk is dit 'n vrug van die Gees, 'n gawe of seën?
Deel dit waarvoor jy van God vra. Dit kan klink soos volg:
Here, ek vra vir genade dat ek nie so hard sal wees op myself nie, want dit maak dat ek nie my identiteit as kind van U kan raaksien nie. Ek vra dat ek meer gemaklik kan raak met die gevoel van magteloosheid. Dat ek kan leer hoe om my afhanklikheid van U kan geniet soos 'n baba sy afhanklikheid van sy ouers geniet. Ek vra dat U my angstigheid sal vervang met vertroue. Dat ek seker sal wees van U voorsienigheid ook in hierdie vreemde tyd. Ek vra dat U my sal vul met wysheid, onderskeiding en rustigheid wanneer ons agter die boeke sal inklim. Ek vra dat U my sal help om die gevoelens van kwaad wees, moeg wees, moedeloos wees sal wegneem. En as ek eers nog iets daaruit moet leer, Here, dat ek dit sal doen soos wat U wil hê ek moet. Leer my U wil en help my om U beeld uit te dra ook daar in. Here ek vra vir elkeen van hierdie gawes.
Voor jy aanbeweeg na 'n volgende punt. Sit net in verwondering en dankbaarheid vir dit wat God vir jou wil gee.
Wat is dit?
Teenwoordigheid/Teenwoordig wees of Bewustelikheid (ook bekend as "Mindfulness" of "Attentiveness") beteken dat ons aandag gee aan dit wat ons doen. Dit beteken dat ons stadiger leef en werklik bewus is van wat om ons en binne ons aangaan.
Dit is die teenoorgestelde van haastig wees en "multitasking". Wanneer jy Teenwoordigheid beoefen neem jy jou tyd, gee jy jou aandag, is jy gefokus op die hier en nou. Dit is 'n ontspanne en rustige manier van wees.
Dit beteken dat jy teenwoordig is in die oomblik en sonder oordeel kan waarneem wat aan die gang is. Dit is 'n liefdevolle, vredevolle manier van wees.
Hoe help dit my?
Teenwoordigheid help ons om God raak te sien in die hier en nou. Dit is ook die enigste plek waar ons werklik leef. Ons leef nie in gister nie, dit is net herinneringe. Ons leef nie in môre nie, dit is net drome. Ons leef nie in ons gedagtes nie, dit is net illusies. Ons leef in die hier en nou en dit is waar God ons wil ontmoet. Maar ons kan dit dalk misloop omdat ons nie bewus is daarvan nie.
Teenwoordigheid help ons om waar te neem wat aan die gang is, sonder oordeel dit te aanvaar of verander, en vreugde en vrede te vind in die taak van die oomblik.
Wanneer ek dit reg kry...
Is ek meer bewus van God se teenwoordigheid in my lewe.
Is ek minder oordelend oor myself, ander en die wêreld.
Beleef ek meer vrede en vreugde.
Beleef ek meer van die dag. Die groot oomblikke, asook die klein dingetjies.
Spirituele Oefening...
#1 "Go Pro"
Baie sportmanne sal weet wat 'n "Go Pro" is. Dit is 'n kamera wat alles waarneem terwyl jy jou sport beoefen. Hierdie kamera is nie oordelend oor die sportman se optredes nie. Hy is ook nie oordelend oor die wêreld waarin die sportman speel nie. Hy neem net alles waar. Ons wil leer om bewus te raak van ons "Go Pro". Ons het die vermoë om in ons gedagtes na hierdie "kamera" toe te kan gaan en net bewus te wees van wat aan die gang is.
Stel vir jou selfoon 'n nuwe kode vir die week. Elke keer wat jy jou foon moet oopsluit, skakel in by jou "Go Pro". Waarmee is jy besig? Wat is om jou aan die gang? Wat voel jy? Hoe voel jy oor wat jy voel?
#2 Handewas
Ons moet gereeld ons handewas. In plaas daarvan dat dit 'n vinnige 20 sekondes is waaroor jy nie dink nie. Gebruik die tyd om te oefen en waar te neem.
Voel die water. Is dit warm, koud of lou? Hoe voel dit as dit oor jou hande loop? Voel die seep. Hoe ruik dit? Hou sou jy die gevoel beskry? Wat hoor jy? Voel jou hande. Is hulle grof, sag, glad, nat? Wat kan jou hande alles doen? Alles wat jy nou doen, kan 'n gesprek met die Here wees oor die wonder van hande was en die manier waarop God jou hande geskep het.
#3 Vind meer geleenthede
net soos die ervaring met die handewas, oefen om so in die oomblik te wees met meer take deur die dag. Dit kan alles insluit, maar begin met: