Ek weet nie hoe baie mense vir Willem Steyn, ons Eiendomskomissie se Voorsitter ken nie. (Hy sal waarskynlik baie verleë wees dat ek ‘n foto van hom ingesluit het by vandag se storie). Ek kan nie werklik die storie deel sonder om meer oor hòm ook te deel nie. En sonder om hom te verwar met die agent in die dorp, is dit nodig om duidelik te wees dat ONS Willem, nie eiendom verkoop nie. Hy sien om na ons eiendom – ons Kerkgebou. En sjoe, met wat ‘n passie en ‘n mooi hart doen hy dit nie!
Aan die begin van die finansiële jaar het Willem ‘n groot droom gehad. “Hoed-in-die-hand” het hy gesê dat ons gebou baie opknapping nodig het. Na jare se agter-in-die-ry-staan, is ons gebou se onderhoud ‘n dringende saak. En soos al die ander jare, kry ander bedieninge die voorkeur. Willem was weer ingelig dat daar eenvoudig net nie fondse is vir die nodige vebeteringe nie – slegs die noodsaaklikste kon aandag kry. Dit was hartverskeurend om te sien. Willem is so passievol oor ons eiendom en feitlik met trane in die oë, is hy huis toe. Min het ons geweet dat hy dit NIE as ‘n finale “nee” sou aanvaar nie.
Met ‘n nuwe droom in die hart, het Willem teruggekom met planne. Saam met die Here het hy gedroom oor kleiner planne. En een vir een het Willem sy planne met mense begin deel. Een vir een is die planne aangepak. Een vir een is klippe en soms berge uit die pad gerol. Die Here het op wonderbaarlike maniere voorsien. Ons Gemeenteraad is geïnspirereer en het ingespring. Ons Geloofsfamilie het dadelik gereageer en het vir ons binne ‘n week verf vir die Ouditorium geskenk. Ons Mannebediening het ingespring en hulle tyd en mannekrag geskenk om die verfwerk te doen. (Willem Steyn, Willem Pretorius, Chris van Heerden, Charl Erlank, Christo vd Bergh, Derek Jacobs). Ons kantoordames het begin om die babakamer, voorportaal en badkamers te “renovate”. Meubels wat in hoekies van huise gestaan het en nie meer gebruik word nie, is herstofeer en mooigemaak. Meubels wat in die kerkgebou rondgestaan het, is verkoop en die fondse is aangewend vir ekstra uitgawes.
Sonder ‘n begroting, of enige uitgawes uit ons Geloofsfamilie se fondse, is ons gebou besig om nuwe lewe te kry, danksy ‘n ONS EIEndomme-man, Willem Steyn se DROOM en LEIDING. Hy het dit reggekry om mense opgewonde te maak, maar meer as dit, het hy van ‘n proses ‘n geleentheid gemaak.
Ek gaan self Dinsdag by die kerkgebou wees om te verf en nog méér stories te hoor!
Indien jy wil deel wees, kontak vir Willem. Hy het NOG groot planne. 082 801 2733
Geskryf deur Arline Meyer
Geen mens is ‘n eiland nie, nie eers ons eie eiendom komissie voorsitter Willem Steyn nie. Willem het die vermoë om homself te omring met mense net so passievol is soos hy. Hulle het sy hart gehoor en sy DROOM gesien en saam met hom die vandel opgetel. Ek deel graag vandag ‘n klein deel van hulle storie.
Om hierdie manne se storie te verstaan moet jy eintlik bietjie in hulle wêreld leef. So met my pa se “overall” aan en kwas in die hand is ek gewapen Dinsdag oggend om 07:00 by die kerkgebou. Vinnig, vinnig is ek gewys hoe om die deure af te span met “masking tape”. Ek is trots om te sê daar is twee nuwe deur kosyne en ‘n gesamentlike poging tot ‘n veiligheidshek wat nou wit is danksy my deelname. Maar meer as dit, is dit die ure se saam kuier en lag met die manne wat die oggend vir my uitstaan. Van jongs af het ek geweet, as ek tyd saam met my pa wil spandeer en hom wil leer ken, moet ek in sy leefwêreld wees. Hierdie manne wat so saam saam die gebou transformeer, en daarmee saam ons aanbiddingservaring, is manne met harte van goud. Terwyl ons verf praat ons oor die prediking van Sondag, ons vertel grappe, ons praat oor die politiek van Amerika, ons praat oor ons bekommernis oor ons kinders, ons praat oor ons vrae oor die toekoms. Ek hoor hoe lief hulle vir mekaar geword het in die maande se saamwees met troetelname wanneer die een Willem die ander Willempie roep. Ek hoor hoeveel respek daar is wanneer hulle met mekaar werk. Ek sien die stoutighede wanneer hulle vir mekaar nog werk uitdink, om die verf geleenthede met nog ‘n week oftwee of 10 uit te brei (is enige iemand lus om die kombuiskaste te kom help afskuur en verf?;-P).
Willem se manne is uniek en Divers. Willem Pretorius is ‘n joviale gees, stout vir ‘n grappie. Hy geniet die samesyn en geselskap met die manne en die kantoor personeel. Hy bak tuis die heerlikste beskuit en kom deel vrylik met almal sodat ons almal hom mis wanneer hy nie by die gebou is nie. Charl Erlank is ‘n man van min woorde. Maar hy het dadelik die geleentheid aangegryp toe die Mannebediening die kans gekry het om te help met die verwery. Die geleentheid om ander beter te leer ken en die Geloofsfamilie te help om kostes te spaar was vir hom ‘n eenvoudige som. Dit ten spyte van die feit dat hy steeds gesukkel het met lang Covid, en die verf walms nie goed vir sy longe kon wees nie. Een van sy gunsteling stories is hoe Sipho, een van ons werkers gevra is of sy saak met die Here reg is, voordat hy op ‘n hoë leer teen een van die skagte moet verf. “Hoogtes” verneem ek van verskeie verwers, is nie iets waarvan enige van hulle hou nie. Die samesyn en saamwerk gaan werklik gemis word.
Ons het Dindsdag die verwery vir hierdie rondte afgesluit met ‘n heerlike braai onder die bome by die kerkgebou. Ons sal na die Oostelike Sinode weer begin. En dalk ‘n daar nog ‘n klompie mense wat wil kom saam verf. Daar is nog ander werkies wat ons ook wil aanpak. Danksy oop hart en bereigwillige hande is enigeiets moontlik. Ek deel weer volgende week meer oor Willem se span en die dames wat ons badkamers en babakamer so mooi gemaak het.
Mag jy iets van die liefde, die seën en sorg beleef wanneer jy saam met ons, in die kerkgebou kom aanbid.
Dit is my voorreg om die afgelope paar weke stories te deel uit die Mannebediening se ervaring van ons ver projek.
As mens is ek diep geraak deur hierdie ses mans wat hulle tyd, energie en passie gegee het om ons aanbiddingspasie so mooi te versorg. As gelowige is ek verwonderd oor hulle bereidheid om daad by woord te sit.
Elkeen van hulle het met handewerk, seer spiere en baie tyd kom getuig van dit wat hulle binne van oortuig is, dat hulle glo in ‘n God wat voorsien, dat Hy waardig is om aanbid te word en dat ander ook saam sal aanbid in ‘n omgewing wat hulle inspireer en verborge laat voel. Maar meer as dit is ek as leraar diep geraak en weer inspireer. As ek na die stories luister waarom elkeen “ja” gesê het vir hierdie projek, is ek nederig oor die harte van hierdie mans. Hulle is selfloos, bereid om ander te help, bereid om die Geloofsfamilie te versorg – veral wanneer ander nie hulle hande opsteek nie.
Christo van den Bergh het begin deur vir een muur ja te sê. Hy het gebly toe hy sien “die arbeiders is min en die oes is groot”. Hy het op hoë stellasies gewerk wat angstige oomblikke verskaf het. Hy het vriende ontdek en saam gekuier om koffies en braaivleisvure. En meer as dit – wanneer hy nou na die gebou kyk, sien hy waar hy en die ander liefde in elke oppervlak ingeverf het.
Die sorg en oog vir detail waarmee hy kom vrywillig het, getuig nie net van sy geloof nie maar ook van hom as mens. Dit skyn uit die stil mens wat so saam met die manne werk.
Chris van Heerden is ‘n man wat speel met woorde. En ek sal graag sy eie woorde op Facebook plaas as ‘n aparte artikel. Die RAMKATTE soos hy na homself en die ander verwers verwys was te min en die omvang van die projek veels te groot. Jare se opknappingswerk is versuim sodat bediening altyd voorkeur kry. Dit het die werk van die verwers moeiliker gemaak. Soos hulle geverf het, moes hulle ook regmaak en versorg. Buiten die hoeveelheid werk herinner hy my aan die hoeveelheid liters verf wat gebruik is, die kilometers “masking tape”, die liters koffie, die baie ekstra rande wat uit die manne se sakke betaal is wanneer niemand kyk nie, die vroeë oggend ure en daarme saam ure se slaap wat opgeoffer is en natuurlik hoeveel kilogram heerlike beskuit van Willem Pretorius verorber is. Die projek het soveel meer ingehou as wat aanvanklik gedink is en voor gevra is.
Ek word herinner dat die “ja sê” vir vrywilligers, die Geloofsfamilie en die Here, altyd meer inhou as wat mens dink. Dat ons prentjie altyd net so ‘n klein venstertjie is van God se groter meesterstuk. Soms maak dit ons moedeloos wanneer die werk meer word. Wanneer ek na die RAMKATTE kyk, word ek weer geïnspireer en aangemoedig. Wanneer die werk meer word, die oes groot is, stuur die Here ook medegelowiges, vriende, hartsmense wat die werk draaglik maak, selfs lekker maak. En wanneer die werk nie voel asof dit nooit klaarkom nie, is daar altyd geleentheid vir ander om weer deel te word en ons arms weer sterk te maak.
Indien jy wil deel word van die RAMKAT span, kontak vir Willem Steyn by 082 801 2733. Daar is selfs plek vir ‘n paar vroue. Ek gaan verseker in die toekoms self weer saam verf.
Dankie vir julle harte, manne.
Dankie vir julle getuienis.
Dankie vir julle menswees.
Ons is diep dankbaar.
Geskryf deur Arline Meyer