Word 'n PvR Geloofsfamilie Ankerbydraer

19 April 2023

Verlede Sondag het ons namens die Finansiële Komitee terugvoer gegee oor die vorige finansiële jaar.

Dankie vir elke finansiële bydrae - jy maak 'n verskil! Ons het ook gedeel waarvoor ons vir 2023/2024 begroot het. Daar is ook 'n beroep op die Geloofsfamilie gedoen om 'n ankerbydraer te word, indien jy nie reeds een is nie.

Met hierdie spesiale e-nuus wil ons:

  1. Baie dankie sê vir elke ankerbydraer wat ons bedieninge anker
  2. Terugvoer gee indien jy nie die erediens kon bywoon nie
  3. Indien jy 'n ankerbydraer wil word, metodes gee wat jy kan gebruik om maandeliks jou geloofsoffer te gee.

Groete
Finansiële Komitee en Inkomsteversorging-span

Dankie vir 2022/2023 se finansiële jaar

Baie dankie vir julle volgehoue bydraes verlede jaar. Ons het Februarie ons finansiële jaar afgesluit met ‘n klein tekort van R28 294. Dit is baie goed. Maar ons inkomste was onder begroting met R196 762. Ons uitdaging is nie ons uitgawes nie, dit word baie goed bestuur. Soos vanuit die syfer is dit duidelik dat ons uitdaging lê by konstante inkomste, met ander woorde meer ankerbydraers.

Waarvoor is BEGROOT?

Hierin is begroot vir bedryfsuitgawes soos geboue instandhouding, salarisse en gewone goed wat nodig is vir die daaglikse bestuur van die gemeente.

Ons het ook vir ons verskillende bedieninge begroot. Het jy bv. geweet dat ons ‘n groot jeugbediening het en vir verskeie mooi geleenthede begroot? Het jy geweet ons help ook 12 gesinne in ons gemeenskap maandeliks met kos? Dit het onlangs vermeerder en ons ontvang nog versoeke.

Het jy geweet die predikante-span sien baie mense pastoraal teen geen fooie nie? Dit is deel van ons bediening. Ons subsidieër ook vanuit ons begroting die Sentrum vir Lewenskuns, ons terapeute Elmarie en Berna, wanneer mense uit die gemeenskap terapie benodig.

Hoekom GEE ons OFFERGAWES?

Ons gee omdat ons teologies verstaan dat ook ons geld van God kom. Dat God ook ons geld gebruik om die Koninkryk uit te brei. Deur maandeliks jou offergawe by PvR Geloofsfamilie tee gee, beteken dat jy inkoop in PvR Geloofsfamilie se vergestalting en werk in die Koninkryk van God.

So gee asb. ‘n offergawe vanuit ‘n geloofsoortuiging. Dit is tussen jou, jou begroting en God oor hoeveel jy/huishouding gee.

Wat is 'n ANKERBYDRAER?

‘n Ankerbydraer is iemand of ‘n huishouding wat konstant, maandeliks ‘n elektroniese bedrag gee. Dit is debietorders, asook die unieke elektroniese bydraers wat ons kan tel. Ankerbydraers help ons om beter te kan begroot, omdat ons maandeliks op daardie bydrae kan reken.

Is jy reeds 'n ANKERBYDRAER?

Dankie vir julle maandelikse, elektroniese verbintenis. Vir ons huidige begroting se nuwe inkomste begroting wil ons elke ankerbydraer vra om biddend te oorweeg om jou bydrae met R50 te verhoog. Jy kan die kerkkantoor kontak om jou debietorder aan te pas, of gewoon jou bydrae aanpas op jou Internetbank.

Hoekom benodig ons MEER ANKERBYDRAERS?

Ons glo God roep ons om nog meer te doen! Ons gaan onder andere in 2023 weer ‘n aanddiens begin. Verder wil ons nog meer mense, wat dit benodig, help om ons terapeute te sien. Daar is ook nood vir meer kos. Ons het ook groot drome vir ons bedieninge. Ons dink bv aan ons eiendomme en dat dit die spasie is waar baie van ons bedieninge gebeur en nog bedieninge waaroor ons droom kan gebeur. Ons wil dit nog mooier maak.

Daarom vra ons – gee sodat ons kan bly doen en instand hou wat ons tans doen en ook om nog meer te kan doen. Ons het goeie spanne wat rentmeesterskap toepas, vanaf ons Finansiële Komitee, Inkomsteversorging en bedieningspan. Ons droom groot oor ons roeping en strategie van Ontdek en Leef Christus. Stel ons Geloofsfamilie finansieël in staat om te doen wat ons oortuig is God met ons gemeenskap besig is en waarheen God ons nog roep.

HOEVEEL dra ANKERBYEDRAERS by?

Mense vra gereeld wat het ons nodig? Hoeveel het ons nodig? Ons het ongeveer 400 ankerbydraers wat 'n gemiddeld van R900 per maand bydra.

Enige maandelikse bedrag wat konstant inkom sal ons instaat stel om te bly doen wat ons doen en nog meer. Bv. ‘n nuwe ankerbyedraer wat R200 per maand kan begin bydrae, sal ‘n reuse verskil maak.

As jy nuut gaan begin bydrae, oorweeg om jou selfoonnommer as verwysing te gee of enige ander unieke verwysing. Dit help ons om die ankerbydraers te kan tel.

HOEVEEL nuwe ANKERBYDRAERS word benodig?

Die finansiële komitee en inkomsteversoring-span het ‘n beroep op die Geloofsfamilie gedoen om die ankerbydraers vanaf 400 tot 480 individue/huihoudings te verhoog teen einde Mei-maand. Ons het ‘n roeping en verantwoordelikheid om ons begrote inkomste te maak – sodat ons kan doen wat God van ons vra.

Indien jy nog nie maandeliks dieselfde bedrag bydrae nie, oorweeg dit asb. biddend om maandeliks, elektronies dieselfde bedrag by te dra deur een van die volgende metodes:

Debietorders

Kliek hier om 'n debietordervorm af te laai.

'n Maandelikse bydrae dmv EFT

NG Kerk Pierre van Ryneveld
ABSA Lopende Tjek
Takkode: 632005
Rekeningnommer: 600 591 355
Gebruik asb. selfoonnommer of ander unieke verwysing

Jy kan Zapper gebruik!

Skandeer die Zapper-kode in die prentjie, indien jy dmv Zapper wil bydrae. Gebruik asb. selfoonnommer of ander unieke verwysing.

e-finansies fasiliteit: Payfast

Jy kan van ons e-finansies fasiliteit gebruik maak. Kliek hier om direk per EFT/Kredietkaart jou dankoffer te gee.

Verskil tussen OFFERGAWES en FONDSWERWING

Ons onderskei ook tussen Offergawes en Fondswerwing. Fondswerwing is ander aktiwiteite wat ons doen en reël om nog inkomste vir die gemeente te genereer bv. Vrydae vetkoeke en Dorpsfees. Offergawes is die geloofsgewoonte om maandeliks ‘n offergawe te gee en om ‘n ankerbydraer te wees.

PvR Geloofsfamilie,
Finansiële Komitee en Inkomsteversorging

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika