Bid saam met Ons - Kinders

26 April 2023

Voel dit asof jou Gebedslewe nuwe lewe nodig het? Ons Gebedsbediening wil jou uitnooi om saam met ons te bid. Ons gaan vir die volgende kwartaal weeklik Gebedstokkies beskikbaar stel om jou gebedslewe te verryk.
Hoe werk dit dan? Jy kan elke week die Gebedstokkies aflaai van ons webwerf af. Druk die stokkies rug aan rug uit. Jy kan dit op harde karton druk, of gewone papier. Jy kan dit ook lamineer indien jy dit meer bruikbaar wil maak. Sny die stokkies uit en hou in 'n glasie by jou gebedshoekie. Jy kan dan elke dag vir jou 'n gebedstokkie of twee trek om voor te bid. Daar is ook 'n paar leë stokkies wat jy self kan invul, indien jy vir ander temas ook wil bid.


Dit is mooi kleurvol om jou opgewonde te maak oor jou gebedstyd. Dit is moontlik om die stokkies saam as gesin, vriende, kollegas of Kleinkerk te kan gebruik.
Elke week sal 'n nuwe tema se stokkies beskikbaar wees. Gebruik hierdie stokkies saam met jou Gebedsjoernaal, waar jy jou gebed opskryf. Dit is 'n oomblik van verwondering as jy terugblaai deur jou Gebedsjoernaal en sien hoe die Here geantwoord het.
Bid asb. hierdie week saam met ons vir KINDERS in die algemeen, maar ook vir jou eie KINDERS, ons Geloofsfamilie se KINDERS, en KINDERS wat jy spesifiek ken.

GEBED:
My Kind, die oomblik toe ek jou in my arms vasgehou het, het alles verander.
Geen oomblik, prestasie of gedagte kan vergelyk met hierdie moment nie.
Na al die inspanning en uitputting om jou in ons lewens te hê, ervaar ek net dankbaarheid, liefde, geloof en hoop.
Ek neem elke detail van jou in, en het 'n hart wat oorloop.
Jou lewe lê voor jou, vol moontlikhede.
En daarom bid ek vir jou my hart se punt.
Maak die beste van al die geleenthede.

Ek bid vir jou voete...
Ek is bewus van die kilometers wat jy moet stap, die plekke waar jy nog moet gaan. Ek bid dat jy sal leer om Jesus te volg, om in Sy voetspore te trap. Ek bid dat elke tree wat jou voete loop, trippel, huppel, spring, hardloop of dans gevul sal wees met vreugde, liefde en lewe.
Ek bid dat die mense wat saam met jou die pad stap jou sal inspireer, uitdaag en die reis die moeite werd maak. Ek bid dat die mense wie se paaie jy kruis deur jou verander sal word vir die goeie. Ek bid dat jou voete jou na al die mooi plekke in die wêreld sal neem en dat jy nie sal toelaat dat vrees jou terug hou nie.
Ek bid dat wanneer jy val, jy sal weet dat ek hier is vir jou. Ek bid dat jy die wagmoed sal hê en God jou die krag sal gee om weer op te staan.

Ek bid vir jou hande...
Ek dink aan al die harde werk wat jy nog moet doen. Ek sien al die pragtige dinge wat jky nog gaan skep. Ek bid dat jou hande sterk, gretig, kreatief en opgewonde sal wees vir die werk en geleenthede om te vleg, vorm, vou, druk, streel, vat en vry.
Ek bid vir elke lewe en mens wat jy gaan aanraak. Ek bid dat jy met jou hande meer sal gee met vrymoedigheid as wat jou vingers vat uit gierigheid. Ek bid dat jou hande eerder sal gesond maak as wat jy sal breek.

Ek bid vir jou mond...
E$k hoor jou stemmetjie en ek kan nie wag vir al die jare se gesels en lag nie. Ek bid dat elke woord wat uit jou mond kom God se Naam sal groot maak, altyd sal jubel en dat jy Hom bo alles prys. Ek bid dat jy jou lippe sal gebruik om ander altyd op te bou en aan te moedig. Ek bid dat jou tong nooit skerp sal wees met woorde wat seermaak nie. Ek bid dat jy weet jy kan altyd met my praat, vrae vra, opinies deel, frustrasies lig en bekommernisse neerlê. Saam kan ons na God gaan vir die antwoorde en die uitweg.
My gebed is dat ons jare se saam kuier en gesprekke sal deel. Ek bid dat jy jou mond sal gebruik vir liefde, troos. seëninge, liedere, glimlagte, soene en die aanbidding van God. Mag jou woorde lewe bring en hoop gee.

Ek bid vir jou ore...
Die wêreld is 'n hele simfonie van klanke en geluide wat vir jou wag. Ek bid dat jy met deernis en empatie na mense om jou sal luister. Ek bid dat jy doof sal wees vir die wêreld wat jou wil afkraak of van jou skinder. Moenie na die leuens van die wêreld luister nie.
Ek bid dat jy God sal hoor bo die geraas van die lewe. Soms fluister God, ander kere basuin Hy. Soms hoor jy Hom in die fluit van voëltjies, die blaf van hondjies, die suis van wind in die bome se blare, die aanmoediging van 'n maatjie se stem, die uit-die-maag-uit-lag van ander kinders, die huil by 'n siek bed, die stilte voor 'n storm, die breek van branders, die slag van donderweer, die ritme van jou gunsteling liedjie, vrede van iemand wat jou vergewe. Ek bid dat jy jou ore sal gebruik om al die mooi om jou te hoor. Wees sensitief vir Sy stem. Mag dit wat jy hoor jou vul met nederigheid en verwondering.

Ek bid vir jou oë...
Daar is soveel om waar te neem op hierdie planeet. Ek bid dat jy die mooi wat hierdie wêreld kan bied sal raaksien. God het soveel geskep wat ons verwonderd en verslae sal laat in die lewe. Mag jy oomblikke neem om dit te beleef, ervaar en waardeer. My gebed is ook dat ek die geleentheid kan kry om baie daarvan vir jou te wys en met jou te kan deel. Ek bid dat jy met die oë van jou hart sal sien waar God se hand werk. Hy is altyd aan die werk as jy jouself toelaat om dit raak te sien. My gebed is dat jy nie blind sal wees vir ander se pyn en nood nie. Mag dit wat jy sien jou ook aanspoor om 'n verskil te maak. Die lewe kan jou soveel bied. Ek bid dat jy 'n ryk toekoms vir jouself sal insien. Mag jou toekoms beide wortels en vlerke hê. Mag jy gewortel wees in die krag en liefde van die Here. mag Hy vir jou die vlerke gee om vry en hoog te vlieg.
Mag jy geleenthede, hoop, deernis, vergifnis, vreugde, oorwinning, wysheid en geloof raaksien. Mag jy ook nie jou oë wegdraai van ander se swaarkry, seerkry, hartseer wees en moedeloosheid nie. Mag jy uitreik na ander wanneer jy dit sien en mag jy 'n verskil maak.

Ek bid vir jou lyfie...
Ek dink aan alles wat jou lyfie nog met doen. Ek bid dat jy dit met blydskap sal laat werk. Mag jy 'n beroep vind wat jou vreugde gee en jou siel verkwik. Ek bid dat jy nooit sal verleer om te speel en pret te hê nie. Die leweis te ernstig. God het ons geskep om die lewe te geniet, nie net te verdra nie. Dit is my gebed vir jou.
Ej bid dat jou lyfie gesond sal wees en gebruik sal word om ander gesond te maak. Soms kos dit net 'n glimlag, ander kewe sal jy meer van jouself moet bestee. Mag jy altyd weet dat God jo krag gee asook mense oor jou pad stuur. Ek bid dat jy teenwoordig sal wees in ander se lewens. Mag jou teenwoordigheid troos, liefde, vreugde en hoop in mense se lewens insaai.

Ek bid vir jou kopie...
Ek besef opnuut heveel gedagtes en slimhede jy nog met my gaan deel. Ek bid dat jy met vreugde nuwe dinge sal leer, nuwe waarhede sal ontdek en deur nuwe gedagtes uitgedaag sal word. Mag jy meer en meer in die lewe ontdek en mag dit jou verslae los oor die grootheid van God. Ek bid dat jy altyd positief en optimisties sal wees. Die lewe is ernstig genoeg en daar is al klaar te veel om oor te bekommer. Ek bid dat jy nie aandag sal gee aan negatiewe gedagtes nie. Mag jy omring wees deur idees wat jou inspireer om kreatief nuwe oplossings te vind. Ek bid dat jy selfstandig en regverdig in jou denke sal wees teenoor jouself, ander en die wêreld. Ek bid dat jy altyd sal weet hoe waardevol, kosbaar en besonders jy is.

Ek bid vir jou lewe...
My kind, vandag lê jou hele lewe nog voor jou. Ek bid dat jy in oorvloed geseën dal word. Mag jou lewensbeker altyd oorloop. En daar waar jy tekorte ervaar, is my gebed dat God jou sal vul. Ek bid dat jy soveel vreugde sal ervaar dat jy oorweldig is met die omvang darvan. My gebed is ook dat wanneer hartseer kom, jy deur God vertroos sal word. Mag Hy jou sag in Sy arms toevou en jou weer gesond maak. Ek bid dat jy daagliks egte vrede sal ervaar. My gebed is dat die realiteit van die wêreld nooit daai vrede, wat slegs by God te vinde is, sal steel nie. Ek bid dat geloof elke tree op jou lewenspad vir jou sekerheid, sekuriteit en vryheid sal gee. Mag dit gepaard gaan met dankbaarheid vir 'n lewe wat in God se hande afspeel.

Dit is my gebed vir jou my kind, vandag, en elke dag daarna.
Amen (Arline Meyer)

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika