Johannes 1:43-46

Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus. Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.

Om oor te gesels en te dink:
Kom kyk! Ons tema hierdie week is uitnodigend en nooi jou om God opnuut weer te ontdek. Miskien ontdek jy weer hierdie week dat jy óók kan sê ‘kom kyk’, want die Here het jou tog geskape en aan die kruis vir jou ook gesterf. En tog wonder mens soms oor God en geloof. Natanael het ook gewonder, hy was skepties en krities oor Jesus. Soms voel die soeke na God of geloof soos om deur ‘n verkyker te kyk en mens sien nog nie die hele prentjie mooi in fokus nie. Dit is veral dan wanneer vriende soos Filippus ons help deur uitnodigend te kan wys waarop om dalk te fokus en ons uitnooi: ‘probeer om weer te kyk’.

Gebed
Here, dankie vir mense in my lewe wat my uitgenooi het om ‘te kyk’ en iets van U te beleef. Here gebruik my om mense te nooi om ook ‘te kom kyk’ in verskillende spasies in hulle lewe na wie U is. Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika