Psalm 23
1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. 5U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. 6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.
VRAE:
- In die Bybel se tyd is dale en valleie nie plekke van rus en veiligheid nie. Dale is plekke van onsekerheid. Psalm 121 sê juis dat hy opkyk na die berge en opsoek is na dit wat vir hom rus en vrede kan bring. Wanneer jy in die vallei is, is jy blootgestel. Dinge kan met jou gebeur. Soms kan die skadu’s van die berge oor jou val en jou meer ontbloot laat voel. Die Psalm skrywer verwys na die vallei as donker dieptes. Mens sien dit as jy op die berg staan en af kyk wanneer dit nog vroeg oggend is of skemer begin word.
- Waar bevind jy jouself op die oomblik? Op die berg? Naby God? Of in die vallei? Daar waar jy blootgestel is, dalk onveilig voel? Deel jou belewenis met die Here.
- Waarom is tye wat voel soos dale of valleie nie ‘n lekker plek om te wees nie? Watter leuens vertel jou brein of die vyand vir jou wanneer jy in situasies is wat soos valleie voel? Wat het jy nodig wanneer jy in die vallei situasies of ervarings is?
- Wat kan jy doen om jouself te herinner aan die berg ervarings saam met God wanneer jy in die vallei ervarings is? Wat kan jy prakties in jou lewe inbou om weer tyd te maak vir berg ervarings? Wat is daar in jou geloofshandelinge wat jou help om nader aan berg ervarings te kom? Deel jou gewaarwording met God.
GEBED:
Here, ek is so dankbaar vir berg ervarings. Maar ek kan nie ontken dat ek van tyd tot tyd ook vallei ervarings beleef nie. Here, wanneer ek in die vallei is, is dit vir my so swaar. Here, U weet hoe my gedagtes en die stemme van ander om my, my moedeloos maak. Here, help my om juis in daardie oomblikke tyd te maak vir U. Here, help my om nader aan U hart te leef, meer van U hart te hoor. Here, help my om veral in daardie oomblikke na U te soek wat my ontmoet.
Amen