1 Konings 19:8-12
8Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. 9Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” 10Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” 11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte.

VRAE:

  • Keer op keer op keer het God sy mense op die berg ontmoet. Wanneer mense berg ervarings gehad het, het hulle ‘n verwagting gehad om die Here te ontmoet. Wanneer mense die Here ontmoet het, het hulle getransformeer.
  • Het jy al ooit ‘n berg ervaring gehad waar jy die Here ontmoet het. Is jou berg ervaring een van buitengewone verskynsels, gebeure of situasies? Of is jou berg ervaring een van stilte waar God sagkens met jou gesels? Hoe weet jy dit was ‘n berg ervaring? Wat het in jou verander tydens daardie belewenis?
  • Berg ervarings is soms moeilik om met ander te deel, omdat ander nie altyd dieselfde belewenis as jy ervaar nie. Mense wil graag help, maar kan ook soms mens laat twyfel in jou ervaring van die Here. Waar het jy al ‘n berg ervaring gehad waar mense in jou lewe jou hoop gesteel het of jou onseker gemaak het oor wat jy gehoor het die Here van jou vra? Waarom het dit gebeur?
  • Is jy dalk die persoon wat iemand anders laat twyfel in hulle berg ervarings saam met die Here? Het iemand al hulle ervarings op die berg met jou gedeel, en was jy dan negatief of skepties oor hulle ervarings? Het jy al tussen God en iemand gekom, wat besig was om die Here te begin ontmoet? Hoe kan jy dit regstel of vra vir vergifnis? Hoe kan jy dit in die toekoms anders doen?

Gebed:
Here, dankie dat U my op die berg ontmoet. Dankie dat U nooit weg is of onbereikbaar is nie. Here help my om tyd af te sonder om U te soek op berg ervarings. Here, help my om by U stil te word en U hart met my hele hart na te jaag. Here, mag ek nie in iemand anders se pad staan nie. En Here, help my om sterk te staan en vas te hou aan U hand eerder as om ander se twyfel of onsekerhede my eie te maak. Dankie Here, dat U my ontmoet.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika