Markus 8:27
Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”
Om oor te gesels en te dink:
Ons dink hierdie week na oor wie Jesus is. Maandag het jy neergepen wie Jesus vir jou persoonlik is. Die teks begin egter met Jesus wat vir sy dissipels vra oor wie die mense sê Hy is. Dink vir ‘n oomblik na oor wat die mense in jou lewe sê van wie Jesus is. Watter getuienisse het jy al gehoor? En watter opmerking het jy al gehoor wat nie strook met wie jy oortuig is, Jesus is nie. Loer weer na die papier en jou bewoording/getuienis van wie Jesus is. Loer ook weer na Woensdag se inskrywing oor mense se verwagting van Jesus en hoe dit met die lydende Messias verskil. In watter wyse word jy dalk vandag uitgedaag oor jou beeld van God? En waar word jy geroep om te getuig van wie God is.
Gebed
Here, ek ken U en ek is diep oortuig dat U my ken. Soms besef ek dat my beeld van U beperk is en ander kere word ek geroep om juis te deel en getuig oor hoe ek U verstaan. Heilige Gees wys vandag vir my waar ek oor U, soos ek U beleef, kan getuig. Maar Heilige Gees werk ook in my daar waar ek ook nog soos die dissipels sukkel om te begryp wie U is. Amen.