Johannes 20:26
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

VRAE:

  • Wanneer Jesus aan sy dissipels verskyn is Sy eerste woorde aan hulle: “Vrede vir julle.” Jesus weet van die storms wat binne die dissipels en om hulle woed. Jesus bring vrede. Vrede van dit wat binne jou, jou ontstel en opwerk. Vrede vir die situasie waarin jy is en vir die omstandighede wat om jou plaasvind. Vrede vir verhoudings waarin jy jouself bevind.
  • Beleef jy tans ontwrigting en omstandighede wat nie so vredevol vir jou voel nie. Omstandighede wat eintlik nogal baie stormagtig is? Deel jou hart met die Here. Wat is die storms wat binne jou, om jou en in verhoudings met ander teenwoordig is?
  • Vrede beteken nie noodwendig omstandighede om jou wat kalm en sonder chaos is nie. Wat Jesus wel vir sy dissipels en vir ons bring is vrede wat jou kalm maak selfs wanneer die omstandighede woed. Kyk na die prentjie. In die rots hange is daar ‘n voëltjie wat op haar eiers sit en vrede beleef, ten spyte van die storms wat op die rotse woed. Sy beleef vrede want sy weet sy word versorg. Het jy al hierdie tipe vrede beleef? Deel jou hart met die Here.

GEBED:
Here, ek smag na die tipe vrede waar ek kalm en rustig kan wees, want ek weet ek kan op U vertrou. Here, dit is soms so moeilik vir my. Ek weet nie hoe om dit te doen nie. Here, help my om te begin vertrou. Here, help my om die wil te hê, om te wil vertrou. Here, ek weet U gee my vrede. Help my asb. Om dit te begin beleef en nie meer so baie op my eie vermoë te vertrou nie.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika