Matteus 6:1-4
”Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie. “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
Om oor te gesels en te dink
Die negende padwyser vir 2024: “Om gedurig op die uitkyk te wees vir al die stil helde van die Here wat nooit enige erkenning soek vir hulle liefdesdiens en goeie dade nie, en om in hulle voetstappe te volg as my mentors.”
Ons kan leer by mense wat eerder soos Jesus sê nie weet wat hulle linkerhand en regterhand doen nie. Ja, selfs as hulle bid of vas, weet niemand dit behalwe die Vader nie. Ons word geroep om ’n verskil te maak. Ons moet deurskynend aanwesig by mense wees. Daar wees om te help, maar nie vir eie aansien nie.
Dit is die klein dingetjies wat ’n verskil maak. Dit is ’n oproep na iemand wat alleen is, dit is ’n besoek aan iemand wat siek is of swaar kry. Dit is om kos te deel en ons tyd en aandag vir ander te gee.
As jy wonder hoe jy hierdie jaar ’n verskil kan maak, wees op die uitkyk vir mense wat ander help en sluit by hulle aan en begin dit self doen. So verheerlik ons die Vader in die hemel.
GebedHere Jesus, ek wil graag ’n verskil maak. Wys my wat ek kan doen om iemand te help. Mag ek in die agtergrond vir mense U liefde wys. Amen.