2 Korintiërs 9:10-15
10God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer. 11Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word, 12want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee. 13Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. 14Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was. 15Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.

VRAE:

  • In die gedeelte sien ons hoe Paulus verskillende redes deel waarom dit goed is om te gee. Die waardes wat hy beskryf word ook deur ons eie Geloofsfamilie ondersteun. Dit is deel van die 9 maniere waarop ons glo ons moet groei as gelowiges en dissipels.
  • Wat ontdek jy van gee, wanneer jy sien ander getuig van hulle belewenis met God? Hoe moedig jou eie getuienis van God se versorging en teenwoordigheid in jou lewe, jou aan om met ‘n oop hand en hart te leef? Kan jy aan voorbeelde dink waar God vir jou gegee het wat jy kan gebruik om van te getuig? Hoe kan hierdie geleenthede waar God gee, jou weer aanmoedig om te getuig?
  • Wat ontdek jy van gee, wanneer jy na mense kyk wat alles verloor het en hulp benodig? Hoe moedig mense se nood en moedeloosheid jou aan om met ‘n oop hand en hart te leef? Hoe kan God jou gebruik in situasies waar mense se nood groot is? En hoe kan mense wat in nood is, weer God se liefde beleef wanneer ander hulle help?
  • Wat ontdek jy van gee, wanneer jy herinner word aan die taak waarvoor God jou roep? Hoe help jou roeping en gestuurdheid jou om met ‘n oop hart en hand te leef? Hoe gebruik God jou roeping om ander te inspireer om ook te gee? Hoe roep God jou om in mense se lewens verligting te bring en te help?
  • GEBED:
  • Here, dankie dat U my kan gebruik om vir ander goed te wees. Dankie dat ek die voorreg het om te kan gee omdat ek vir ander wil wys hoe Goed U is en hoe U vir hulle wil omgee. Dankie Here, dat U my roep om ‘n verskil te maak in die wêreld en U koninkryk. Here, help my om nie afgemat te word of koud te wees vir die behoeftes van die wêreld nie. Here, help my om elke dag te gee, waar ook al ek geleentheid kry om dit te mag doen.
  • Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika