Efesiërs 3:19
“Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.”
Om oor te gesels en te dink:
Paulus se gebed gaan verder as hy vra dat ons God se liefde sal ken. God se liefde gaan alle verstand te bowe en ons kan dit nie altyd verklaar nie. Dit maak dit so spesiaal. Dit maak dit ’n Godstorie. God se liefde in ons lewens is soveel meer. Dit is alles omvattend.
God se liefde en sorg laat ons dankbaar terug kyk. Dit laat ons besef dat wat vir ons swaar of sleg was, deur Sy liefde omvorm word in ’n Godstorie.
Verder kan ons bid dat God ons met Sy volheid sal vervul sodat ons sal ervaar dat Hy by ons is en ons nie alleen is nie.
Gebed
Here Jesus, dankie vir U liefde. Al verstaan ek dit nie altyd nie, is dit altyd soveel meer. Kom vul my met U liefde en volheid. Amen.