Vrydag, 12 Julie 2024
2 Korintiërs 9:10-15
10God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer. 11Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word, 12want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee. 13Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. 14Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was. 15Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.
VRAE:
- In die gedeelte sien ons hoe Paulus verskillende redes deel waarom dit goed is om te gee. Die waardes wat hy beskryf word ook deur ons eie Geloofsfamilie ondersteun. Dit is deel van die 9 maniere waarop ons glo ons moet groei as gelowiges en dissipels.
- Wat ontdek jy van gee, wanneer jy in verhouding met ander gelowiges staan? Hoe moedig julle byeenkomste en blootstelling aan die nood onder julle, jou aan om met ‘n oop hand en hart te leef? Weet jy hoe dit met die mense wat saam met jou in die Geloofsfamilie is werklik gaan? Hoe kan jou verhoudings met ander gelowiges jou help om ander te ondersteun?
- Wat ontdek jy van gee, wanneer jy na binne kyk en sien wat in jou hart aangaan wanneer die tema van gee voorkom? Hoe moedig jou eie siening van genoeg hê en om skaarste te beleef jou aan om ook vir ander te gee? Hoe kan God jou help om heel te word wanneer jy ander ook help? Hoe help ander mense wat heelheid beleef, jou om ook self te wil heel word? Hoe gee jy van die dele waar jy heelheid beleef weer vir ander?
- GEBED:
- Here, dankie dat ek kan gee omdat ek naby genoeg aan my mede-broers en susters van die geloofsfamilie leef. Here, help my om meer gereeld by die byeenkomste van ons bedieninge uit te kom, sodat ek kan sien wanneer ander hulp benodig. Here, help my ook om heel te word in my eie verstaan van wat ek het en nie het nie. Here, help my om te fokus op die oorvloed, nie die skaarste nie. Here, help my om met ‘n dankbare, vrygewige, heel hart te gee, sonder om bitter of negatief te word.
- Amen