Psalm 20:8
8Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.
VRAE:
- Op wie vertrou jy? Soms sal ons met ons monde bely dat ons die Here vertrou, maar ons lewens en optredes getuig van iets anders. Ons dink en sê vir ander dat God ons stuurwiel van ons lewens is. Maar wanneer ons leef, gebruik ons God meer soos die spaarwiel. Ons vertrou slegs op Hom wanneer dinge nie loop soos dit moet nie,
- Hoe lyk ‘n lewe waar God die stuurwiel van jou lewe is? Hoe sou dit lyk as jy elke klein aspek van jou lewe aan Hom oorgee? Hoe sou dit lyk om na God te gaan met die klein en nuttelose aspekte van jou lewe elke dag? Glo jy dat God ook in jou klein en moontlik “minder belangrike elemente van jou lewe” sou wou leiding bied vir jou? Of glo jy dat jy God pla met sulke onnodige versoeke? Spreek dit iets van hoe jy God vertrou wanneer jy met gemak jou eie besluite neem oor elemente wat nie so “belangrik” is nie?
- Hoe lyk ‘n lewe waar God net ‘n spaarwiel van jou lewe is? Is daar getuienis in jou lewe waar jy net vir God vra vir hulp wanneer die wiele van jou lewe afval? Wat sê hierdie benadering van jou geloofslewe? Hoe dink jy voel God daaroor as jy Hom net konsulteer wanneer jy raadop is en nie meer self die situasie kan hanteer nie?
- Die Here wil jou lei in elke opset van jou lewe. Hy wil ook hê jy moet Hom vertrou in elke aspek van jou lewe. Solank as wat jy self besluite neem oor die groot en klein elemente daarvan, is daar steeds ‘n gedeelte in jou wat nie aan God onderwerp nie. Deel met die Here daardie dele wat nie aan Hom onderwerp is nie. Gebruik die geleentheid om te bely en te vra dat God jou moet lei. Hoe wil Hy hê, moet jy eerder leef.
GEBED:
Here, daar is soveel geleenthede waar ek steeds dink ek kan my eie lewe leef en regeer. Here, ek besef dat die nie waar is nie. Here, ek besef ek het U nodig om ook leiding te bied in die klein, selfs nuttelose aspekte van my lewe. Here, help my om meer afhanklik van U te wees. Here, help my om meer op U te vertrou. Here, help my om U die stuurwiel in my lewe te gee, en nie net U te behandel soos die spaarwiel nie.
Amen