2 Korintiërs 12:7-9
“Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”
Om oor te gesels en te dink
Paulus deel sy worsteling en verwonding. Hy beleef ’n doring in die vlees wat dit vir hom moeilik maak en moeilik is om te hanteer. Hy het ten minste drie maal daaroor gebid, maar waarskynlik baie meer dat die Here die doring moet uithaal.
Tog vind hy troos met die woorde dat God se genade vir hom genoeg is. God se krag kom juis tot volle werking in sy lewe wanneer hy swak is. Hy vind sy beskutting in die krag van God. Nou kan hy as’t ware in verwondering wees waarmee die Here in sy lewe besig is. Dit is juis nie ’n maklike antwoord nie.
Dalk kan jy vandag ook met die woorde van Paulus identifiseer?
Dalk voel jy ook al moeg gebid?
Moenie daarmee ophou nie. Hou vas aan die wete dat God se genade ook vir jou genoeg is en dat Sy krag juis in jou werk as jy swak is.
Gebed
Here, ek worstel en wonder soms. Ek bid dat ek U genade as genoeg sal ervaar en dat U krag steeds in my sal werk dat ek sal sterk wees, as ek swak is. Amen.