Handelinge 3:13
_ 13Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee – aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word._
VRAE:
- Hierdie gedeelte in Handelinge wat Lukas aanhaal kom vanuit Eksodus 3. Dit is waar God aan Moses verskyn en hom die taak gee om die Israeliete vry te maak. Petrus gebruik dieselfde woorde om die Israeliete weer vry te maak. Hierdie keer van hulle eie onkunde. Hy wil hulle vrymaak van die gedagte dat hulle al die reëls volg en dan gered sal word. Hy wil hulle verduidelik dat die enigste ding wat werklik vrymaak is juis geloof in die een wat hulle gekruisig het.
- Vir Moses het dit geklink soos ‘n taak waarin hy nie suksesvol sal kan wees nie. Moontlik het Petrus ook gevoel asof hy nie veel mense sal kan oorreed van hulle onkunde nie. Tog stop dit nie een van die twee volgelinge nie. Moses gaan na Farao. Petrus verkondig aan almal wat hy kan. Die rede hiervoor is dat dit nie gaan oor die een wat die boodskap bring nie, maar oor die een waaroor die boodskap handel, God.
- Die God wat van die begin af geskep en in stand gehou het, wil vandag ook jou ontmoet. Is daar ‘n area in jou lewe of jou geloof waar jy dink jy het al die antwoorde, net soos die Israeliete? Indien iemand na jou toe sou kom met ‘n boodskap van die Here af, sou jy kon luister en die boodskap eerlik oorweeg? Of is jy oortuig dat jy al die antwoorde het en die waarheid besit? Deel jou hart met die Here.
- Soms is ons so besig om aan reëls, dogma of oortuigings vas te hou dat daar nie spasie is vir God om ons van iets nuut te oortuig nie. Kan jy meer los aan hierdie reëls, dogmas en oortuigings vashou om spasie te maak dat God dalk vir jou iets nuut wil leer? Wat sal vir jou die moeilikste wees om van oortuig te word, as dit kom by geloof? Waarom? Deel jou hart met die Here.
Gebed:
Here, ek is soms so oortuig dat ek presies weet, reg glo en dink en niks van iemand anders af benodig om meer getrou te wees in my geloof nie. Here, indien ek nie reg is in hierdie verband nie, het ek nodig dat U my sal help om ligter vas te hou aan my eie opinies en oortuigings. Here, help my om leerbaar te wees. Help my om oopkop genoeg te wees dat ek U stem en leiding te kan aanvaar. Here, help my om te besef dat ek nie alles wees nie en slegs aan U hand moet vashou, nie my gedagtes of oortuigings nie.
Amen