Jeremia 29:12-14
Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.
Om oor te gesels en te dink:
In hierdie teks word daar veral klem gelê op ‘n soeke na die Here en ‘n soeke na die wil van die Here. ‘n Soeke na die wil van die Here met ‘n mens se hele hart. Wanneer het jy al so uit jou hart gebid vir die wil van die Here? Het jy al ‘n ‘moeilike’ gebed gebid en die Here se wil gepleit? Gevra dat die Here Sy wil aan jou bekend maak? Hierdie week word ons gevra om te bid vir ons gemeenskap. Vir die wil van die Here om in ons gemeekskappe en stad te gebeur. Om in gebed te bely dat ons hulp van die Here afkom en dat ons van God afhanklik is. Ons moet Hom vertrou en volhard in ons gebede vir ons stad.
Gebed:
Here, ons roep na U en soek U met ons hele hart. Hoor ons gebede en bring verandering in ons gemeenskappe en stad. Laat ons U altyd vertrou en op U steun. Ons hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Ons vra na U wil, Here. Vorm ons in gebed, sodat ons ook sal leef en verandering in ons stad bring. Ons bid ook vandag weer vir die drie mense/dinge. Here wees met… en… en…Amen.