1 Konings 3:5, 7-9
“Daar in Gibeon het die Here die nag in 'n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?””
“Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, 'n groot volk, te veel om te tel. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!””

Om oor te gesels en te dink:
Salomo kry die geleentheid om vir die Here enigiets te vra. Anders as wat mens sou dink, vra hy nie vir rykdom of aansien nie, maar gehoorsaamheid. Die 2020-vertaling sê: “gee dan aan u dienskneg ’n hart wat luister… om te kan onderskei tussen goed en kwaad”
Wat ’n gebed!
Ons word oorweldig met kennis en inligting, maar dit vra wysheid om die regte besluite te neem. Soos Salomo kan ons in afhanklikheid vir die Here vra om ons harte te gee wat luister. Wanneer ons in nederigheid en opregtheid vra, sal die Here ons hoor en vir ons wysheid gee.

Gebed
Here, ek kom vra vandag ’n hart wat luister. Help my om U stem te hoor dat ek kan onderskeid tussen goed en kwaad. Ek wil in gehoorsaamheid U dien. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika