Handelinge 3:12
12Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek: “Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop?
VRAE:
- Petrus vra vir die Israeliete waarom hulle so verbaas is dat die man wat hulle almal geken en gereeld gesien het, gesond gemaak is. Die mense was verbaas daaroor en het bespiegel hoe dit moontlik was dat hy gesond gemaak is. “Was dit moontlik die dissipels wat nuwe bonatuurlike kragte ontvang het?”, “Was dit moontlik dat Jesus se kragte nou in die dissipels geleef het?”, “Was die man skielik baie gelowig en het hy die wette begin hou, sodat hy op hierdie manier genees is?”
- Petrus verduidelik vir hulle in wie se krag die man genees is. Hy is genees omdat Jesus dit so wou hê. In Jesus se naam is enige iets moontlik. Hy alleen het die krag om dit te doen.
- Is daar iets in jou lewe, waaroor jy wonder? Is daar ‘n probleem wat jy al van al die kante af bekyk het, en net nie weet hoe om dit op te los nie? Het jy al probeer om dit op elke manier moontlik weg te kry? Deel jou hart met die Here.
- Het jy al in die verlede beleef dat Jesus ‘n situasie in jou lewe oplos? Het jy al jou huidige probleem na God geneem en vir Hom gevra om die oplossing te bied? Het jy Hom al genoeg vertrou dat Hy dit vir jou sal kan doen?
GEBED:
Here, ek weet U is magtig genoeg om enige probleem of situasie wat ek mag beleef kan oplos. Here, help my om U weer ‘n keer te vertrou vir dit wat tans in my lewe en hart aangaan op te los. Here, ek sukkel so baie daarmee. Here, help my om vrede te beleef, terwyl U die oplossing bring.
Amen