Handelinge 3:16
16Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.
VRAE:
- Petrus gebruik die mense se eie belewenis om te getuig van dit wat God doen. Hy weet dat die mense met hulle eie oë gesien het en met hulle eie ore gehoor het. Hulle kan nie daarvan wegdraai of dit ontken nie. Die getuienis is voor hulle, en hulle moet self erken dat dit wat God doen lewens verander.
- Waar in jou lewe het jy al getuienis gehad van dit wat God doen? Dalk is dit in die lewe van ‘n ander gelowige wat jy nie kan ontken nie? Jy kan sien, hoor en beleef hoe God werk. Deel jou ervaring met die Here.
- Dalk het God al in jou eie lewe gewerk tot so ‘n mate dat jy nie onseker kan wees nie. Dit wat God gedoen het, kan nie deur jou eie werke en inspanning verduidelik word nie. Waar het God jou al ontmoet en jou oortuig deur dit wat jy self waargeneem het?
- Hoe deel jy dit wat jy sien, hoor en van oortuig is met ander wat nog nie dieselfde belewenis gehad het nie? Hoe is jy besig om te vertel van dit wat jy beleef het, sodat ander ook vir God kan ontmoet en in verhouding met Hom kan begin leef?
GEBED:
Here, ek het U al raakgesien in die lewens van ander om my. Ek het U al beleef in my eie lewe. Dankie Here dat U steeds vandag werk en beweeg. Here, gebruik asb. my lewe om ook vir ander te oortuig dat U groot is. Here, ek prys U naam vir die wonderbaarlike manier waarop U werk.
Amen