1 Korintiërs 1:30-31
“Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. Daarom, soos daar geskrywe staan: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.””

Om oor te gesels en te dink:
Paulus herinner ons dat wysheid van God kom. Wysheid het vlees en bloed geword in Jesus. Hy is die Een wat vir ons in die regte verhouding met God stel. Dit maak nie vir die wêreld sin nie. In 1 Kor 1:22 skryf Paulus: “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.”
Jesus is die ware wysheid en wanneer ons wysheid kortkom, moet ons by Jesus leer.
Ons kan vandag met wysheid leef, al verstaan die wêreld nie dat ons doen wat ons doen nie. Mag jy vandag God se wysheid ervaar en weet dat Hy die bron van alle wysheid is.

Gebed
Here, dankie dat U ons wysheid is. Al maak dit nie vir ander sin nie, gee U sin. Mag ek vandag U wysheid beleef. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika