Efesiërs 4:13-16
13 So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14 Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.
Ons dien deur ons gawes ter wille van ons geestelike volwassenheid. Vers 13 sê ons sal so volmaak en volwasse soos Christus wees. Wow, neem ’n oomblik en dink aan hoe wonderlik dit is, en sal wees as elkeen hulle gawes gebruik! Die waarheid is dat ons alles van Jesus ontvang het wat nodig is om hierdie volwassenheid te kan bereik. Ons as kerk kan die karakter van ons Here hê en aan alle mense wys.
Vers 14 sê Dan sal ons nie meer kinders wees nie. Kinders glo enigiets, en hulle glo graag iets wat doodgewoon nie waar is nie. Christene wat nog onvolwasse is glo ook dikwels enigiets, en dit kan hulle begrip van die waarheid baie sleg beinvloed. Dwalleer, bygeloof en kulturele gebruike wat sommer as Christelik bestempel is kan ’n gelowige rondslinger. Paulus sê dat ’n gebruik van ons gawes dit keer, juis omdat dit almal saam lei na volwassenheid.
Om oor te dink:
Love is not just tolerance. It's not just distant appreciation. It's a warm sense of, 'I am enjoying the fact that you are you.’ N.T. Wright