Kolossense 1:6
Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is.

VRAE:

  • Paulus is opgewonde oor die gemeente se bestaan. Dit is ‘n gemeente wat hy nie self geplant het nie. Wat hy in hierdie vers duidelik maak is dat daar deur ander mense getuig is van die waarheid wat hulle gevind het in Jesus, tot so ‘n mate dat die gemeente geplant is. Hy is opgewonde dat die evangelie, die goeie nuus, reg oor die wêreld versprei het en dat dit vrug dra. Dit is ‘n lewende geloof.
  • Hoe het jy van Jesus gehoor? Wie het teenoor jou getuig en jou meer vertel van die evangelie? Hoe het hierdie goeie nuus vir jou aanloklik geraak? Waarom glo jy die goeie nuus?
  • Hoe lyk jou getuienis? Waar vertel jy vir mense van dit wat jy in Christus ontdek het? Hoe dra jou lewe vrug sodat ander kan sien dit is die antwoord op al hulle probleme?
  • Waar het jy in die afgelope week die Here se teenwoordigheid beleef? Ons noem dit Godstories. Vertel vir een mens vandag ‘n Godstorie, ‘n ervaring of geleentheid waar jy God beleef het.

GEBED:
Here, ek beleef U op soveel verskillende maniere elke dag. Here, help my om dit met ander te deel. Ek voel skaam en onseker om vir ander van U te vertel. Here, help my om meer gemaklik daarmee te raak. Here help my dat ek daagliks die stories en ervarings wat ek van U beleef, met ander te kan deel.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika