Spreuke 3:1-4
1My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf, 2want dit sal vir jou 'n lang lewe verseker, dit sal maak dat jy 'n vol lewe het. 3Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit 'n deel van jou lewe. 4So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens.
VRAE:
- Omtrent elke hoofstuk in Spreuke is die ouer besig om sy kind aan te spreek en wysheid te deel. In hoofstuk 3 deel die ouer hoe wysheid lei na ‘n vol lewe. ‘n Lewe wat oorvloed geniet en gevul is met liefde en trou. ‘n Lewe wat by God guns vind en ook deur mense nagejaag word.
- Waarom dink jy sou liefde en trou, goeie vrug wees van ‘n lewe wat met wysheid geleef word? Hoe lei waarheid, die dien van die Here na liefde en trou? Hoe sou jy liefde en trou beskryf vir iemand wat nie weet hoe dit lyk nie?
- Waarmee is jou lewe gevul? As jy dit sou moes beskryf vir iemand wat vir jou sou vra, hoe sou jy dit beskryf? Is jou lewe gevul met liefde en trou? Of is jou belewenis anders? Deel jou hart met die Here in hierdie verband.
- Waarom werf ‘n lewe gevul met liefde en trou guns by God en mense? Hoe leef jy elke dag nader aan God se idee van wysheid en sien jy meer en meer liefde en trou teenwoordig in jou lewe? Wat is jou grootste uitdaging as dit kom om meer liefde en trou in jou lewe te vestig? Deel jou hart met die Here.
GEBED:
Here, ek wil in U waarheid en wysheid leef. Soms is dit vir my so moeilik want ek soek meer na reg en regverdigheid. Dit is so maklik om dit te kan meet en bepaal. Maar Here, dit is moeilik om meer liefde en trou te bepaal. Here, help my om meer in liefde en trou te wandel. Here, help my om daarna te soek wanneer ek elke oomblik keuses moet maak, besluite moet neem of my optredes moet kies. Here help my om meer vir mense om te gee, van myself te gee en meer van U liefde vir hulle tasbaar te maak. Here help my om in U wysheid te leef.
Amen