Markus 7:25-30 AFR20
”En gou het daar ‘n vrou wie se dogtertjie ‘n onrein gees gehad het, van Hom gehoor, en voor sy voete kom neerval. Dit was ‘n Griekse vrou, van Siro-Fenisiese afkoms. Sy het Hom gevra om die demoon uit haar dogter uit te dryf. Hy het vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Sy antwoord Hom toe: “Here, die hondjies onder die tafel eet darem van die kindertjies se krummels.” Daarop sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, gaan huis toe! Die demoon het reeds uit jou dogter uitgegaan.” En toe sy by haar huis kom, kry sy die kindjie op die bed lê, en die demoon was reeds uit haar uit.“
Om oor te gesels en te dink
Hierdie vrou het alles op die spel geplaas om by Jesus uit te kom. Sy het teen die norm ingegaan en met Jesus gepraat omdat sy haar volle vertroue in Hom geplaas het. Sy verander Jesus bediening. Sy sê vir Jesus dat sy bereid sal wees om die krummels van die brood te eet, soos wat hondjies dit onder die tafel eet. Sy besef sy verdien dit nie, maar vra Jesus om genade. Jesus sien haar geloof raak en help haar. Hierdie vrou kon dink dat sy nie werd is om na Jesus toe te gaan nie, maar sy was oortuig om met die bietjie wat sy van Jesus weet, Hom te nader en om hulp te vra. Dit het haar lewe verander.
Ons kan met vrymoedigheid na Jesus toe gaan, want selfs die krummels is genoeg. Sy liefde vir ons verander ons lewens. Kom ons vertrou Hom met ons behoeftes. Hy help altyd.
Gebed
Here Jesus, ek kom na U toe en vertrou U. Dankie dat U altyd help, selfs al mag ek dink ek verdien dit nie. Amen.