2 Samuel 9:8-10
“Hy het weer voor Dawid gebuig en gesê: “Wat is ek tog dat u aandag gee aan ‘n dooie hond soos ek?” Dawid het vir Siba die amptenaar van Saul geroep en hom beveel: “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee ek aan sy kleinseun. Jy en jou seuns en jou slawe moet vir hom die lande bewerk en die oes insamel sodat daar kos kan wees vir sy huishouding, en sodat hulle kan eet. Maar Mefiboset die kleinseun van Saul sal van nou af by my aan huis eet.” Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad.”

Om oor te gesels en te dink
Mefiboset het gedink hy is nie waardig om die goedheid van koning Dawid te kan aanvaar nie. Hy verwys na homself as ’n dooie hond. Tog gee Dawid opdrag dat sy lot verander. Dawid onderneem om vir hom te sorg en hom in te nooi in sy huis.
Dawid het genoeg redes gehad om dit nie te doen nie. Tog kies hy om goedheid aan Mefiboset te betoon. Die Hebreeuse woord vir hierdie goedheid is “gesed” – wat ook lojaliteit en onvoorwaardelike aanvaarding beteken. Dawid het nie terug gedeins om dit te gee nie. Hy gee nie net vir hom goed nie, maar ook sy tyd as hy vir Mefiboset na sy tafel toe nooi.
Dit moes dalk vir Mefiboset moeilik gewees het om hierdie goedheid te aanvaar. Hy wou nog redes gee, maar Dawid het voort gegaan om goedheid aan hom te bewys.
Ons moet bereid wees om ook die Here se goedheid te ontvang. Laat ons nie dink ons is dit nie waardig nie. God se goedheid is vir ons elkeen bedoel.

Gebed
Here, dankie dat U so goed is vir my. Ek verstaan dit nie altyd nie, maar dankie U goedheid en guns by my is. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika