Matteus 5:38, 41-42
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle: … As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”
Om oor te gesels en te dink:
In die tyd van Jesus was dit wet dat ’n Romeinse soldaat enige persoon kan dwing om sy wapens ’n kilometer ver te dra en ’n mens mag dit nie geweier het nie. Jesus sê dit is wys om meer te doen as wat van jou gevra word en dit vir twee kilometer te dra. Jesus moedig op hierdie manier ons, as Sy volgelinge, aan om met wysheid mense te dien. Dit mag nie maklik wees nie, maar dit is die regte ding om te doen.
Hier is die gebed wat Sondag gebruik is. Bid hierdie gebed en vra die Here om jou te wys waar jy diensbaar kan wees en met wysheid ’n verskil kan maak.
Gebed
Here, maak my vandag ’n ‘houspyp’
Sommer net ’n gewone ‘houspyp’
Here, wat gereed lê in U tuin…
weerhou my daarvan om ambisieus te strewe na die aansien van ’n kristalkraffie
wat mooi maar suinig bietjies water in delikate klein glasies skink
maar nooit ’n groot dors les nie.
Weerhou my van die versamelwaarde van ’n kunstige erdekruik -
wat, al hou dit die water heerlik koel, ’n bodem het, leeg raak.
Gewoonlik te gou. Want, selfs die waardevolste kruik wat leeg is,
bied geen verweer teen die venyn van ’n droë wind nie!
Nee, Here, maak my sommer net ’n ‘houspyp’ - wat tevrede is om dag na droë dag net ’n kanaal te wees vir u strome van lewende water.
En, Here God, maak my oë oop vir verwelkte mense verskroei in die wind!
Amen.