Kolossense 3:5-10
”Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.“
Om oor te gesels en te dink
Paulus herinner die gemeente in Kolosse dat aangesien hulle ‘n nuwe identiteit in Christus het, hulle erns daarmee moet maak. Dit is soos om ontslae te raak van vuil klere. Dis ‘n keuse om Jesus te volg wat jou lewe verander. Hy noem twee keer vyf dinge waaraan hulle nie moet meedoen nie.
Omdat Jesus nou die belangrikste in ons lewens is, moet ons wegstap van die sondige gewoontes en toelaat dat God deur Sy Gees ons al meer vernuwe na sy beeld.
Die Boodskap vertaal dit treffend: “God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy. So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees.“
Gebed
Here Jesus, ek wil U beter leer ken en wees soos U. Ek wil my eie ou klere weggooi en U volg. Help my om vandag U liefde uit te leef. Amen.