Eksodus 14:13-16
“Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan.”

Om oor te gesels en te dink:
Ons almal beleef krisisse, soms klein, ander kere groot. Tog raak ons ook paniekerig en dink daar is nie uitkoms nie. ’n Krisis hoef nie altyd net negatief te wees nie. Daar is uitkoms, al sien mens dit nie dadelik raak nie.
Moses herinner die volk dat die Here hulle nie los nie. Hulle het gedink dit is die einde van alles toe hulle voor die Rooi See gestaan het. Tog gee God op ’n wonderbaarlike manier uitkoms. Hulle moes net kalm bly en Hom vertrou.
Dalk is dit wat jy vandag nodig het? Waarvoor kan jy die Here vertrou?
Gee dit wat vir jou ’n krisis is oor aan die Here.
Word kalm en hou vas aan die belofte dat die Here by jou is en vir jou uitkoms sal gee.

Gebed
Here, ek kyk vas in my krisis en dink daar kan nie uitkoms wees nie. Ek wil dit vir U gee en kalm bly. Dankie dat ek nooit alleen is nie. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika