Daniël 6:11-16 (2020 Vertaling)
11 Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op 'n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het. 12Daardie manne het toe ingestorm en Daniël biddend en smekend voor sy God gekry. 13 Daarna het hulle voor die koning verskyn en met hom gepraat oor die koninklike verbod: “Het u nie 'n verbod op skrif gestel dat enigiemand wat vir dertig dae 'n bede rig tot enige god of mens behalwe tot u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” Die koning het geantwoord en gesê: “Die saak staan vas as 'n wet van Mede en Perse, wat nie herroep mag word nie.” 14Toe antwoord hulle en sê vir die koning: “Daniël, een van die ballinge van Juda, steur hom nie aan u, o koning, of aan die verbod wat u op skrif gestel het nie, maar drie keer op 'n dag rig hy sy bede tot sy God. ” 15 Toe die koning dít hoor, was hy erg ontsteld, en het hy sy bes gedoen om Daniël te red. Tot sononder het hy hom beywer om hom te bevry. 16 Daardie manne het ingestorm by die koning en vir die koning gesê: “Onthou, o koning, dat dit 'n wet van Mede en Perse is dat elke verbod en verordening wat die koning uitgevaardig het, nie verander mag word nie.”
VRAE:
- In vandag se gedeelte sien ons hoe Daniël steeds God eer en aanbid, ten spyte van die moontlike gevaar om hom. Ons sien ook hoe hierdie aksie hom tog in gevaar plaas en moontlik sy lewe kan kos. Tog kies Daniël om getrou voor die Here te kniel.
- Ons dien die Here in ‘n land waar ons vry is om so te maak. Tog is daar geleenthede waar ons moontlik skaam kan wees om God te dien. Daar kan geleenthede wees waas dit nie die populêre ding is om te doen nie. Wat maak jy in daardie omstandighede? Dien jy steeds die Here, kniel jy steeds voor Hom? Of kies jy om jou geloof geheim te hou en weg te steek? Waar is daar voorbeelde in jou lewe van dit wat jy sê jy doen?
- Waarom is dit so moeilik om enduit God te dien as mens teenkanting beleef? Wat dink jy sou God van jou vra as almal om jou druk op jou plaas om jou rug op God te draai? Wat sou gebeur as ons nie meer in ons land vrylik die Here sou kon dien
- In die wêreld is daar baie lande waar die Christelike geloof nie verkondig mag word nie en baie teenkanting beleef. Bid vandag vir daardie gelowiges wie se lewens in gevaar is. Bid vir die mense wat steeds in daardie lande hulle geloof beoefen en met ander deel. Bid vir die lande se mense, om God te beleef en Hom te begin dien.
GEBED
- Here, dankie dat ek in ‘n land kan leef waar ek U met vrymoedigheid kan dien. Here, ek is jammer dat ek selfs met hierdie voorreg, U nie ten volle dien nie. Here, help my om meer getrou te wees en U te soek in elke aspek van my lewe. Here, ek bid ook vir gelowiges wêreldwyd wat nie dieselfde voorreg het nie. Ek bid vir gelowiges wat U dien ten spyte van die feit dat hulle lewens in gevaar mag wees. Mag hulle omring word deur U teenwoordigheid en mag hulle beskerm word. Mag U hulle gebruik op so ‘n manier dat ander ook U vind en U begin dien.
- Amen