Markus 11:7-11
“Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het. Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is! Prys Hom in die hoogste hemel!” Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.”

Om oor te gesels en te dink
Jesus se intog in Jerusalem word aanvanklik goed ontvang. Die skare is opgewonde en bring eer aan Hom, want hulle verwag dat Jesus uiteindelik gaan doen waarna hulle so uitgesien het. Hulle verwag dat Jesus ’n verandering in hulle omstandighede gaan bring. Tog is dit nie wat Jesus doen nie. Hy doen dit in gehoorsaamheid aan Sy Vader. Hy stap die lydingspad, wat net Hy van geweet het.
Ons is party maal ook soos die skare. Ons roep ook uit: “Hosanna! Prys Hom! Loof Hom!” wanneer ons wil hê dat Jesus aan ons verwagtinge moet voldoen. As dit nie uitwerk soos ons dit voorsien nie, wil ons ook soos die skare later uitroep: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”
Wat is jou verwagting van Jesus? Moet Hy net doen wat jy dink of kan jy die lydingspad saam Hom stap, as dinge nie altyd is soos wat jy dink dit moet wees nie.

Gebed
Here Jesus, ek wil met ’n opregte hart uitroep: “Hosanna” en U eer as die Een wat gekom het vir my. Dankie dat U hierdie pad kom stap het. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika